Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Retief ná dekade terug in wenkamp

Jy kan Retief Goosen verskoon as hy Sondagaand met bewerige hande van die Firestone-buiteklub in Ohio se 18de setperk weggestap het.

Terug in die wenkamp . . . Retief Goosen erken Sondag die skare se applous nadat hy die senior Bridgestone-kampioenskap gewen het. Foto: AP

Die 50-jarige Suid-Afrikaner het hom immers in daardie oomblikke vir die eerste keer in tien jaar terug in die wennerskamp bevind.

Goosen het sy eerste sege in die Amerikaanse Kampioenereeks vir senior spelers behaal toe hy voëltjies op albei die laaste putjies van die senior Bridgestone-kampioenskap aangeteken het om met twee houe oor Jay Haas (67) en Tim Petrovic (68) te seëvier.

’n Wipplank-ronde van 68 (twee houe minder as baansyfer), wat benewens vier voëltjies ook ’n arend en ’n dubbele brouhou ingesluit het, het sy totaal gebring tot 274 (-6) en ’n wengevoel waarna hy al vir jare hunker.

“Dis tien jaar sedert ek laas ’n toernooi gewen het, so daar was senuwees,” het Goosen volgens die PGA-reeks se amptelike webblad gesê.

“Om die laaste paar weke weer daardie senuweeagtigheid te voel – jy moet jouself heeltyd in daardie posisie plaas om weer daaraan gewoond te raak en dis wat ek gedoen het. Hierdie week het dit uiteindelik vrugte afgewerp.”

Die Polokwane-boorling het in Februarie 50 geword en dadelik toegetree tot senior gholf, vir ’n tweede loopbaan met nuwe geleenthede en doelwitte.

Hy is in Junie op die beste manier denkbaar vereer vir die groot hoogtes wat hy in sy loopbaan bereik het toe hy in gholf se Internasionale Heldesaal ingelyf is, en het dit as aansporing in die senior reeks gebruik. Hy het onder meer twee keer die Amerikaanse Ope gewen en was twee keer die Europese reeks se geldwenner.

“Ons is natuurlik baie bevoorreg in gholf dat ons kan aanhou speel tot ons nie meer rondom gholfbane kan loop nie en dat daar ’n plek is waar ons nog kan geld verdien al hou ons nie meer kers vas by die jonger ouens nie,” het hy aan die begin van die maand in ’n onderhoud met Rapport gesê. “Maar dit ís meer as dit. Dis nie sommer net maklike geld nie, die kompetisie is taai. Jy moet nog steeds voëltjies aanteken om bo uit te kom en jy boet hier ook vir jou slegte houe.”

Danksy sy Bridgestone-sukses het Goosen nou opgeskuif tot die agtste plek op die Kampioenereeks se geldwennerslys, met $984 242 (meer as R13 miljoen) in totale prysgeld sedert Februarie.

In sy 11 toernooie vanjaar het hy vier top10-uitslae behaal.

Meer oor:  Gholf  |  Retief Goosen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.