Twee Suid-Afrikaners sal danksy hul goeie vertonings in die plaaslike Sonskynreeks vandeesweek kans kry om hul slag teen die wêreld se beste gholfspelers in Amerika te wys.

Daniel van Tonder sal vandeesweek die eerste keer sedert 2015 in ’n WGC-gholftoernooi in aksie wees. Foto: Verskaf
JC Ritchie en Daniel van Tonder sal van Donderdag af saam met hul landgenote Christiaan Bezuidenhout, Erik van Rooyen en Louis Oosthuizen in die WGC-Workday-toernooi by The Concession-klub naby Bradenton, Florida, in aksie wees.
Altesaam 48 van die top50-spelers op die wêreldranglys tel onder die deelnemers. Dít sluit Dustin Johnson, die wêreld se nommereen-speler, in. Die pryspot vir dié toernooi is ’n yslike $10,5 miljoen (sowat R153 miljoen).
Ritchie en Van Tonder se deelname aan dié prestigeryke toernooi is te danke aan die feit dat hulle onderskeidelik eerste en tweede op die Sonskynreeks se geldwennerslys in die 2019-’20-seisoen geëindig het.

JC Ritchie / Foto: Getty Images
Ritchie was drie keer in 2019 in die wenkampie in die plaaslike beroepsreeks en het vroeg in 2020 nog twee titels by sy versameling gevoeg.
Van Tonder was op sy beurt aan die brand nadat beroepstoernooie verlede jaar ná die streng Covid-19-inperking weer hervat het.
Hy het drie van die vyf toernooie in die Rise-Up-reeks gewen en was in Oktober ook baas in die Royal Swazi Ope.
Ritchie sal in sy tweede WGC-toernooi speel, nadat hy in 2018 sy debuut in die HSBC-kampioenetoernooi gemaak het.
Van Tonder sal die derde keer in ’n WGC-toernooi sy staal toon, maar die laaste keer was bykans ses jaar terug in 2015.
“Voor dié week was ek vir byna 21 dae in Florida, waar ek hard gewerk het aan my spel en om gewoond te raak aan die verskillende gras en vinnige setperke hier,” het Van Tonder uit Amerika laat weet. – Michael Vlismas Media