Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Rook en jonges steel Louis-hulle se donder

Ernie Els sou Donderdag op die eerste dag van die Australiese Ope in Sydney, hoop die ses lede van sy Internasionale Presidentebeker-span wat daar in aksie is, sou hoog vlieg.

Maar op dié dag wat ernstig versuur is deur die hangende rook van die bosbrande in die omgewing, was sien reeds moeilik genoeg – wat nog te sê van vlieg.

Die Aussie-veteraan Adam Scott slaan Donderdag in die eerste ronde van die Australiese Ope af by die twaalfde putjie, met dik rook van bosbrande buite Sydney wat agter hom hang. Foto: Getty Images

Twee 21-jarige Asiese amateurs, Japan se Takumi Kanaya en Taiwan se Yu Chun-an, het al hul meer geroemde teenstanders se donder gesteel deur die voortou met rondes van 65 (ses houe minder as baansyfer) te neem. Hulle bevind hulle egter aan die voorpunt van ’n behoorlike verkeersknoop, met 34 ander mans wat aan die einde van die dag binne vier houe van hulle was.

Tussen hulle is groot honde soos die Presidentebeker-spelers Louis Oosthuizen, Cameron Smith en Marc Leishman.

Oosthuizen, die enigste Suid-Afrikaner in Els se Internasionale twaalftal, het drie voëltjies aangeteken vir ’n foutlose 68 (3-onder). Hy en die Aussie Smith (wat vier voëltjies en ’n brouhou op sy telkaart ingevul het) is deel van die 15 spelers in die gesamentlike sesde plek.

Leishman, ’n Australiese veteraan op wie Els in volgende week se tweejaarlikse stryd met die VSA baie swaar sal steun, is ’n hou agter Oosthuizen-hulle op 69.

Abraham Ancer, die Presidentebeker-groentjie en verdedigende kampioen, is saam met Els op 72, terwyl Adam Scott en nog ’n Presidentebeker-nuweling, C.T. Pan, met 75 houe tevrede moes wees.

Sergio Garcia, wat 70 houe gespeel het, slaan die bal uit ’n sandkuil, terwyl die dik rook die sonlig uitblok. Foto: Getty Images

Scott, wat in Melbourne in die negende Presidentebeker van sy loopbaan sal speel, het aan AFP gesê die rook het sy dag baie moeilik gemaak.

“Dit voel of ek soutwater of iets in my neus moet gooi en my moet uitwas,” het hy gesê. “Dit is uiteraard nie die soort toestande waarin ek wil speel nie.”

Matt Jones, die Australiese Ope-wenner van 2015, het gekla oor sy oë wat brand. “Dis moeilik om jou gholfbal te sien wanneer jy daar buite is, om te sien waar dit eindig,” het hy gesê. “Ek het ’n hoesie asof daar slym of iets in my longe vassit – dis nie lekker nie. Ek hoop my kinders is in hul hotelkamer.”

’n Nieu-Seelandse speler, Ryan Chisnall, wat asmaties is, is sodanig deur die rook geaffekteer dat hy met ’n masker gespeel het.

’n Werker by die baan het homself met ’n masker teen die rook probeer beskerm. Foto: Getty Images

Die Engelsman Paul Casey, wat 14de op die wêreldranglys en die hoogste gekeurde speler in die Sydney-veld is, het gesê dit was ’n ongemaklike dag, maar waarskynlik nie so erg soos vir die mense nader aan die brande nie.

“Ek voel regtig jammer vir dié mense, want ons is 100 myl weg en word daardeur geraak. Ek gaan nie kla nie, want daar is mense in ’n veel erger situasie as ek,” het Casey, wat saam met Oosthuizen-hulle op 68 is, gesê.

* Die spelers by die Mauritius Ope het Donderdag ’n aansienlik aangenamer dag gehad, in heerlike eiland-sonskyn.

Die Suid-Afrikaner Brandon Stone is een van vier spelers in die voortou ná 18 putjies. Hy, die 18-jarige Rasmus Hojgaard van Denemarke, Skotland se Grant Forrest en die Fransmanne Benjamin Hebert en Romain Langasque is almal op 66 (ses houe minder as baansyfer).

Stone se landgenote Keith Horne, Zander Lombard, Christiaan Bezuidenhout en Jaco Ahlers is net ’n hou agter.

Meer oor:  Sydney  |  Veldbrande  |  Adam Scott  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.