Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Rory droom van Portrush-trane en Claret Jug

Twee dekades gelede, toe Rory McIlroy net ’n klein krulkoppie met ’n gholf-obsessie was, sou jy hom elke jaar vir vier dae op of naby die oefensetperk van die Royal Portrush-gholfbaan vind.

Klein Rory, toe net 7 of 8 jaar oud, was daar omdat sy pa, Gerry, in die North of Ireland-amateurkampioenskap – toe die grootste hoogtepunt op die Portrush-kalender – gespeel het. Maar die seuntjie sou sy pa net vir twee of drie putjies volg voor sy hande begin jeuk het om self ’n gholfstok in die hande te hou.

Ek raak nie emosioneel oor gholf nie, maar as dit wel gebeur, weet ek nie watter emosies ek sal hê nie.

Net ’n paar treë van waar daardie oefensetperk destyds gestaan het, sal die volgende Britse Ope-kampioen Sondag op die setperk van Royal Portrush se nuwe 18de setperk gekroon word. In die dae toe klein Rory sy ure daar verwyl het, was dit ondenkbaar dat Europa se grootste, glansrykste gholftoernooi ooit weer in Noord-Ierland sou aandoen, weens ’n burgeroorlog genaamd ‘The Troubles’. Maar nou, 21 jaar ná die Goeie Vrydag-vredesooreenkoms, kan dié land se gunsteling gholfseun droom van sy grootste oomblik in sy eie land.

“Ek onthou ek sou hierheen kom om te kyk hoe my pa speel, maar heeldag by die oefenarea naby die parkeerarea wees,” het McIlroy (nou 30) volgens die Belfast Telegraph gesê. “Sedert ek 7 of 8 jaar oud was tot nou, het ek heerlike herinneringe van Portrush. Nou hoop ek net die Ope is nog so ’n goeie herinnering.

In ligte luim op bekende terrein . . . Die Noord-Ier Rory McIlroy het met groot drome opgedaag by vandeesweek se Britse Ope, wat vir die eerste keer in 68 jaar in sy geboorteland plaasvind. Foto: Getty Images

“Ek het nooit by die Holywood-gholfklub (waar hy grootgeword het) gestaan oor ’n sethou en my verbeel dis om die Ope by Royal Portrush te wen nie. Dit sou altyd eerder wees vir ’n wen by St. Andrews of Muirfield of so. Ek het dit vir ’n ruk uit my gedagtes probeer hou (dat die Ope vandeesweek vir die eerste keer in 68 jaar terugkeer na Portrush), maar noudat die tyd hier is, is dit baie moeilik om nie te dink nie aan Sondag by die 18de putjie en die kans om by Royal Portrush ’n sethou te sink wat die Ope wen.”

Op ’n vraag of dit emosioneel vir hom en sy pa sal wees as daardie droom waar word, het McIlroy met onsekerheid geantwoord.

“Ek raak nie emosioneel oor gholf nie, maar as dit wel gebeur, weet ek nie watter emosies ek sal hê nie. Ek dink dit sal beslis baie vat vir my om nie in trane uit te bars nie.”

Sou McIlroy wel Sondag die R&A se ‘Champion Golfer of the Year’ word, sal sy naam vir die tweede keer op die Claret Jug geëts word, vyf jaar ná hy in 2014 die Britse Ope-kampioen was.

Dit het vir my normaal gevoel. Ek het daardie arrogansie gehad en gevoel dis wat ek veronderstel is om te doen.

Dit sal ook groter wees as sy huidige mooiste herinnering aan Portrush: ’n Dinsdag in Julie 2005, toe hy as 16-jarige self in die North of Ireland-kampioenskap gespeel het – en ’n nuwe baanrekord van 61 opgestel het.

Toe, sê hy, het hy nie regtig besef hoe merkwaardig dit was nie.

“Dit het vir my normaal gevoel. Ek het daardie arrogansie gehad en gevoel dis wat ek veronderstel is om te doen. Dis eers met die verloop van tyd dat jy besef dit was spesiaal en iets om te koester. Dit was ’n definiërende oomblik, dis toe die wêreld van my begin kennis neem het,” het hy in ’n onderhoud met The Golf Channel gesê.

Twee jaar later het McIlroy ’n beroepspeler geword en sedertdien vier major-titels ingepalm.

Elk van daardie suksesse was vir McIlroy spesiaal. Maar jy kan jou goed indink dat ’n Ope-triomf by ’n gholfbaan wat soveel indruk in sy lewe gemaak het, alles anders in die skadu sal stel.

Meer oor:  Golf  |  Royal Portrush  |  Britse Ope  |  Rory Mcilroy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.