Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Rory hoop stil Augusta gee deurslag

Dit is die sesde jaar wat Rory McIlroy ’n ontwykende loopbaan-Grand Slam in sy visier het en dié Noord-Ierse gholfspeler glo dit sal in sy guns tel dat die Amerikaanse Meesterstoernooi vanjaar in laer herfstemperature en sonder toeskouers by Augusta gespeel word.

Rory McIlroy speel ’n plofhou uit ’n sandkuil op Augusta National se sewende putjie tydens ’n oefenrondte vandeesweek. Foto: Getty Images

Die Meesterstoernooi is tradisioneel die eerste major-toernooi van die jaar en word gewoonlik in April beslis, maar dit is vanjaar weens die Covid-19-pandemie na November uitgestel. Die eerste ronde begin Donderdag.

Hoewel verskeie spelers die afgelope ruk aangedui het hulle verkies dit dat daar toeskouers by toernooie is, hou McIlroy van die stilte.

“Ek hou meer daarvan. Daar word nie so ’n groot ophef gemaak nie en dit pas my,” sê dié 31-jarige.

Die druk om ’n Grand Slam (die wen van al vier majors) agter sy naam te skryf, is al sedert 2014 aan die oplaai toe McIlroy die Britse Ope gewen het.

Hy moet nog net Augusta se groen baadjie om sy skouers hang om die sesde speler in die geskiedenis – ná Tiger Woods, Jack Nicklaus, Gary Player, Ben Hogan en Gene Sarazen – te word, wat dié magiese mylpaal bereik.

Dit gaan ’n ander Meesterstoernooi wees en dit is seker selfsugtig van my, maar dit is dalk wat ek nodig het.

“Kyk, my spelpeil is daar. Ek slaan goeie houe en gee myself genoeg kanse,” het McIlroy onlangs gesê nadat hy in die laaste ronde van die Zozo-kampioenskap vir ’n 66 op sy telkaart geteken het.

“Dit gaan ’n ander Meesterstoernooi wees en dit is seker selfsugtig van my, maar dit is dalk wat ek nodig het (om te wen).”

Tiger Woods hoop self hy kan die naweek sy beste voet voorsit by Augusta om verlede jaar se merkwaardige oorwinning te herhaal.

Dié 15-malige major-kampioen het in 2019 persoonlike en fisieke struikelblokke oorkom toe hy ’n droogte van 11 jaar (in major-toernooie) beëindig het met sy vyfde sege in die Meesterstoernooi.

Gegewe Woods se vertonings sedert die PGA-reeks in Junie hervat het ná die Covid-opskorting, sal hy aansienlik beter moet speel om Sondag ’n aanspraakmaker te wees.

Hy kon sedert Junie nie in een toernooi onder die voorste 30 spelers eindig nie en het in September aan die verkeerde kant van die afsnypunt in die Amerikaanse Ope beland.

“Toe hy verlede jaar hier (by Augusta) aangekom het, was veral sy ysterspel uitstekend. Ons het dit nog nie vanjaar gesien nie,” sê Andy North, ’n tweemalige wenner van die Amerikaanse Ope en deesdae ’n gholfontleder vir ESPN.

Woods, wat sy eerste groen baadjie 23 jaar gelede verower het, ken Augusta se unieke beproewings egter goed en dit gee hom ’n voordeel bo opkomende sterre soos die wenner van die PGA-kampioenskap, Collin Morikawa (23), en Matthew Wolff (21). – Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.