Rory McIlroy is vol hoop dat die Ryderbeker-stryd in September tussen die gholfspanne van Europa en Amerika “so normaal moontlik” sal wees.

Rory McIlroy kyk Donderdag ’n naderhou agterna in die eerste ronde van die Abu Dhabi-kampioenskap. Foto: Getty Images
Dié tweejaarlikse skouspel vind by die Whistling Straits-baan in Wisconsin plaas nadat dit verlede jaar weens die Covid-19-pandemie uitgestel is. Dit vind nou van 24 tot 26 September plaas.
McIlroy het aan europeantour.com gesê die organiseerders het die regte besluit gemaak om nie verlede jaar die toernooi sonder toeskouers te hou nie.
“Ek is baie opgewonde oor die Ryderbeker. Hopelik, met entstowwe wat nou beskikbaar gestel word, kan ons nou lig in die tonnel begin sien met die pandemie,” sê hy.
“Daar gaan dalk nie heeltemal so baie mense wees soos gewoonlik nie, maar dit sal hopelik baie naby aan ’n gewone Ryderbeker-toernooi wees. Ek is opgewonde daaroor.”
Dié Noord-Ier het sy gholfjaar Donderdag in die Abu Dhabi-kampioenskap begin.
“Ek is lekker uitgerus ná ’n goeie blaaskans oor Kersfees. Ek het goed geoefen en benader die nuwe seisoen met hernieude optimisme en baie doelwitte,” sê McIlroy.
Dit sluit onder meer in om Sondag “eerste oor die wenstreep” te kom.
“Ek het al goeie gholf hier gespeel en was al baie naby (aan ’n oorwinning), maar dan speel iemand anders baie goed op die laaste dag. Dit is belangrik dat ek Sondag die inisiatief neem voordat iemand anders dit doen.” – Reuters