Die Sweedse gholfspeler Madelene Sagström het onthul dat sy as kind seksueel gemolesteer is en hoop deur openlik daaroor te praat, sy diegene wat in dieselfde situasie verkeer, kan help om dié trauma te verwerk.

Madelene Sagström vertel dat sy die waarheid vir 16 jaar onderdruk het en dat gholf in daardie tyd as’t ware ’n uitkoms vir haar was. Foto: Getty Images
Sagström (28), 62ste op die wêreldranglys, sê sy is as sewejarige deur ’n mansvriend seksueel aangerand en dat sy vir 16 jaar met die geheim saamgeleef het.
Sy sê dat sy in 2016 die eerste keer haar storie gedeel het, toe sy haar mentor, Robert Karlsson, wat sy deur die Sweedse nasionale span ontmoet het, daarvan vertel het.
“Vir 16 jaar het ek gemaak asof niks gebeur het nie. Ek het my as’t ware begrawe in gholf. Gholf het my redder geword. Wanneer ek goed gespeel het, was dinge oukei,” sê Sagström.
“Wat ek nie besef het nie, is dat ek nie gehou het van wie ek was nie. Al daardie jare het ek myself geblameer. Ek het myself gehaat.
“Ek het my liggaam verag en myself sielkundig en fisiek seergemaak. Daardie dag het by my gespook.
Al daardie jare het ek myself geblameer. Ek het myself gehaat.
Madelene Sagström
“Om vir Robert te vertel was die grootste uitlaatklep wat ek ooit gehad het. Dit is die grootste rede hoekom ek drie keer in 2016 gewen en ’n LPGA-spelerskaart gekry het. Dit het nie meer gevoel asof ek iets wegsteek nie.”
Sagström het later haar familie en diegene wat naby aan haar is ook van die voorval vertel, iets wat sy beskryf as “die begin van ’n nuwe hoofstuk” in haar lewe.
“Die dag toe ek my geheim gedeel het, het al my skanse afgebreek. Dit het tyd geneem om my stem te vind en die moed te hê om eerlik hieroor te wees,” sê Sagström.
“As ek een lewe kan aanraak deur my storie te vertel, sal dit die moeite werd wees.”
– Reuters