Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Schaper bult spiere by Leopard Creek

Net tien maande nadat hy hom by die beroepsgeledere aangesluit het, sal die 19-jarige Jayden Schaper Sondagoggend opstaan met ’n kans om ’n wenner in die Europese reeks te word.

Die 19-jarige Jayden Schaper is net een hou agter ná drie rondes van die Alfred Dunhill-kampioenskap. Foto: Gallo Images

Schaper is ná 54 putjies van die Alfred Dunhill-kampioenskap by Leopard Creek buite Malelane ’n enkele hou agter die pasaangeër, Pole se Adrian Meronk, nadat hy behoorlik spiere gebult het in die pylvak van die derde ronde.

Die jongeling, wat in Januarie ’n beroepspeler geword het nadat hy as amateur sesde in die Suid-Afrikaanse Ope geëindig het, het Saterdag drie voëltjies en ’n arend in ’n foutlose ronde van 67 (vyf houe minder as baansyfer) aangeteken vir ’n totaal oor 54 putjies van 203 (-13).

Dit plaas hom groot in die truspieëltjie van Meronk, wat danksy ’n 71 steeds sy neus voor het op 14-onder. Die 27-jarige speler het Donderdag die eerste Pool tot nog toe geword wat ’n ronde in die Europese reeks in die eerste posisie afsluit, en het dit Vrydag en Saterdag herhaal.

Nietemin sal hy Sondagoggend met ’n onrustige nag agter hom by Leopard Creek opdaag, vol senuwees oor die 18 putjies wat tussen hom en ’n potensiële eerste Europese titel staan.

Die Pool het Saterdag twee brouhoue aangeteken, op die derde en vierde putjies, maar daarna sy ewewig herwin met voëltjies by die tiende, 11de en 13de. Dit het hom in ’n stadium ’n gerieflike kussing van drie houe bo aan die voorlopersbord gegee.

Terwyl sy speelmaat, die Joburg Ope-kampioen Joachim B. Hansen, agteruit geboer het (met ’n liederlike 8 by die syfer-4 11de wat sy moed gebreek het, het Meronk dalk begin droom van ’n selfs geriefliker kussing. Maar toe vat Schaper vlam . . .

Die jongeling het vroeg ’n voëltjie by die tweede gehad om oor te glimlag, maar moes daarna met 12 syfers in ’n ry tevrede wees. Alles het egter verander toe hy sy naderhou by die syfer-5 15de tot agt voet van die vlaggie slaan – en die sethou sink vir arend.

Schaper se stert was daarna in die lug. By die 17de het hy ’n prag-sethou van 25 voet vir voëltjie gesink en sy derde hou by die 18de tot digby die blikkie geslaan om nóg ’n hou in te win.

Christiaan Bezuidenhout is ook stewig in die wedloop – drie houe agter die voorloper, Adrian Meronk, in die derde plek. Foto: Gallo Images

Meronk het nog drie putjies oorgehad en was ’n hou voor Schaper toe laasgenoemde van die baan afstap, maar kon nie dieselfde wonderwerke daar verrig as wat die Oos-Rander het nie. Sy visier van die bof af het hom in die steek begin laat en die sandkuile het sy bal soos ’n magneet getrek. Goeie setwerk het egter verhoed dat hy die voortou verloor het.

Schaper was in die wolke oor die manier waarop hy sy ronde afgesluit het – veral oor die arend by die 15de.

“Ons het die stok (vir die naderhou) gekies en net vertrou dis reg. Ek was baie tevrede met die hou wat ek toe geslaan het. Om so ’n hou in ’n toernooi soos hierdie te slaan, is regtig lekker.

“Ek het regdeur die toernooi baie goed gespeel by die laaste vier putjies. Ek het die 15de, 16de, 17de en 18de putjies regtig geniet.”

Nog ’n Suid-Afrikaner op wie plaaslike ondersteuners Sondag ’n oog sal hou, is Christiaan Bezuidenhout wat twee houe agter Schaper in die derde plek is.

Bezuidenhout, wat sy eerste Europese sege verlede jaar in Spanje behaal het, het Saterdag ’n stadige begin van die derde ronde gehad en die eerste nege in 36 houe (een meer as syfer) voltooi.

Oor die laaste nege het die gety egter vir hom gedraai, met vyf voëltjies wat hom tot ’n ronde-totaal van 68 (-4) gedra het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.