Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Só naby, só ver vir Aiken in Swede

Twee blapse op die eerste uitspeelputjie van die Nordea-Meesterstoernooi in Gothenburg, Swede, het die Suid-Afrikaanse gholfspeler Thomas Aiken Sondag duur te staan gekom.

Dit was Sondag so naby, dog so ver vir die Suid-Afrikaner Thomas Aiken in die Nordea-Meestersgholftoernooi nadat hy die uitspeelstryd teen die Engelsman Paul Waring verloor het. Foto: Getty Images

Die toernooi is in reën deur die Engelsman Paul Waring gewen nadat albei spelers op 268 houe (14 houe minder as die baansyfer) geëindig het. Albei spelers het 68 houe in die laaste ronde aangeteken.

Die uitspeelstryd was ironies, want Waring, wat een hou voor was ná die 17de putjie van die laaste ronde, se senuwees het begin lol, want hy het op die 18de (syfer 5) baansyfer aangeteken, terwyl Aiken ’n kort voëltjieset ingerol het om die uitspeelstryd af te dwing.

Aiken het sy bal op die eerste uitspeelputjie (weer die 18de) in die water geslaan. Nadat hy vir ’n strafhou uitgegooi het, het sy bal in digte bosse sowat 45 meter van die setperk af beland.

Die slag was reeds geslaan nadat Waring se bal in die middel van die skoonveld beland het en hy voortgegaan het om syfer aan te teken.

Dit was Waring se eerste oorwinning ná byna 200 probeerslae in die Europese reeks.

Hy het in 2011, 2012, 2015 en 2016 kwaai gebuk gegaan onder verskeie gewrigs- en skouerbeserings wat sy loopbaan erg geknou het sedert hy in 2007 ’n beroepspeler geword het.

Hy het €250 000 met sy oorwinning verdien (bykans R4,41 miljoen) terwyl Aiken €166 660 (sowat R2,79 m) verdien het.

“Ek is in die wolke,” het Waring ná sy oorwinning gesê.

“Ek was nie seker of dié dag ooit sou aanbreek nie. Ek het vir soveel jaar só hard probeer om hier uir te kom. Dis baie lekker om oplaas die lyn oor te steek en die beker vas te hou.”

Vir Aiken, wat reeds drie Europese toernooie op sy kerfstok het, was sy vertoning ’n welkome terugkeer nadat hy die afgelope paar maande net een keer in die toptien kon eindig.

Die Duitser Maximilian Kieffer (267) het derde geëindig nadat hy 65 houe in die laaste ronde aangeteken het, wat drie opeenvolgende voëltjies oor die laaste drie putjies ingesluit het.

Die Deen Thorbjørn Olesen (268) was vierde met die Fransman Lucas Herbert (269) vyfde.

Die Suid-Afrikaner Haydn Porteous (271) het saam met drie ander spelers in die gesamentlike sesde plek geëindig. – europeantour.com

Meer oor:  Gholf  |  Thomas Aiken
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.