Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Sonstad-ster Stenson kom jag weer kristal

Die Nedbank-uitdaagtoernooi se grootste sege tot nog toe. Vier tweede plekke. Twee vierde plekke. En ’n agtste plek wat daardie jaar ver benede sy vermoëns sou gevoel het.

Uit dié opsomming van Henrik Stenson se agt verskynings in die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City is dit duidelik dat hy en die Gary Player-buiteklub mekaar baie goed verstaan.

Henrik Stenson sal in November vir die negende keer in die Nedbank-uitdaagtoernooi speel. Foto: Getty Images

Daarom is die opgewondenheid waarmee Donderdag aangekondig is dat hy in November vir die eerste keer in drie jaar sal terugkeer na die Sonstad, heeltemal verstaanbaar.

Stenson sal een van die gróót trekpleisters wees wanneer die Sonstad-skouspel van 14 tot 17 November vir die 40ste keer plaasvind. Hy is die vyfde speler wie se teenwoordigheid bevestig is, ná vroeëre aankondigings oor die verdedigende kampioen, Lee Westwood, sy Engelse landgenoot Tommy Fleetwood en die Suid-Afrikaners Louis Oosthuizen en Zander Lombard.

Die 43-jarige Sweed was laas in 2016 by Sun City. Hy was daardie jaar agtste – sy swakste uitslag tot dusver nadat hy in sewe vorige verskynings nooit buite die topvier geëindig het nie.

Sy vertoning by die Sonstad het nietemin nie die glans laat verdof van ’n spesiale jaar waarin hy ’n yslike tweestryd met Phil Mickelson gewen het om as Britse Ope-kampioen gekroon te word nie.

Dit het van hom die eerste Skandinawiese man gemaak wat ’n major wen.

“Ek het nog altyd geniet om in die Nedbank-toernooi te speel en is bly om terug te keer – veral omdat dit vanjaar die 40ste herdenking is,” sê Stenson oor sy terugkeer na Sun City.

“Toe ek laas in 2016 daar gespeel het, was dit deel van ’n onvergeetlike jaar vir my. Dit sal fantasties wees as ek vanjaar weer my hande op daardie trofee kan kry.”

Stenson was in 2008 die Nedbank-kampioen. Hy het daardie jaar se toernooi met nege houe gewen – steeds die meeste houe waarmee al daar by dié toernooi gewen is.

Benewens die vreugde van wen, is daar ’n ander rede waarom Stenson droom daarvan om die kristaltrofee weer te lig: die wenner se bankrekening sal vanjaar meer stoel as ooit tevore, met ’n wentjek van $2,5 miljoen (R36,5 miljoen) op die spel.

Dis dubbel die bedrag wat Westwood verlede jaar gewen het.

Meer oor:  Sun City  |  Henrik Stenson  |  Gholf  |  Nedbank-Uitdaagtoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.