2022 se PGA-kampioenskap, wat tot twee weke gelede by een van Donald Trump se gholfbane in New Jersey beslis sou word, is na die Southern Hills-buiteklub in Tulsa, Oklahoma, verskuif.

Die Trump National-gholfklub in Bedminster, New Jersey, wat deur pres. Donald Trump besit word, is van sy gasheerstatus vir volgende jaar se Amerikaanse PGA-kampioenskap gestroop. Foto: Getty Images
Die byeenkoms was op soek na ’n nuwe gasheer nadat die Amerikaanse PGA besluit het om die Trump National-baan van sy gasheerstatus te stroop. Dit volg nadat die voormalige Amerikaanse president duisende van sy ondersteuners aangehits het om by die Amerikaanse kongresgebou in Washington DC te betoog, terwyl die kongres besig was met die proses om Joe Biden se oorwinning in die presidentsverkiesing te bekragtig.
Die Trump-ondersteuners het in chaotiese tonele die gebou stormgeloop en vyf mense is dood.
“Opgewonde om vir die vyfde keer na die SHCC terug te keer,” sê die beheerliggaam op Twitter.
“Die baan bied ’n moeilike, maar regverdige toets vir gholf se beste spelers.”
Southern Hills het voorheen sewe van mansgholf se major-toernooie aangebied, die laaste een was die PGA-kampioenskap in 2007 toe Tiger Woods geseëvier het.
– Reuters