Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Spiertier Bryson wil Augusta ook nou tem

Bryson DeChambeau is oorgehaal om die Augusta National-baan van Donderdag af te tem met sy gewaagde kragspel en sê ondersteuners sal verras wees met die wyse waarop hy in die Amerikaanse Meesterstoernooi gaan speel.

Bryson DeChambeu kyk een van sy bofhoue agterna. Sy kragspel is ’n groot besprekingspunt in die aanloop tot vanjaar se Amerikaanse Meesterstoernooi wat Donderdag op die Augusta National-baan begin. Foto: Getty Images

DeChambeau het in September ’n bespotting van die Winged Foot-baan gemaak toe hy die Amerikaanse Ope met ses houe gewen het.

Dié fris Yank beplan om Sondag met ’n soortgelyke plan die nuwe houer van Augusta se gesogte groen baadjie te word.

Gegewe hoe ver hy die bal deesdae slaan, sal hy die syfer 5-putjies met sy tweede hou kan bereik, dikwels met ’n wigyster.

Dit beteken hy verander Augusta se baansyfer inderwaarheid van 72 houe na 68.

Daar word selfs bespiegel dat DeChambeau met sy bofhou op die 13de putjie vir die 14de se skoonveld sal mik, wat hom ’n beter lyn na die setperk kan gee.

Dié ongekende en radikale scenario sal Bobby Jones, ’n medestigter van Augusta, in sy graf laat omdraai.

DeChambeau, wat in die verlede deur talle ander spelers gekritiseer is omdat hy geneig is om stadig te speel, beplan oudergewoonte sy strategie haarfyn.

“Ek gaan merendeels probeer om die bal so ver moontlik te slaan om myself ’n goeie kans te gee om kort houe na die setperke toe te hê.

“Veral op die syfer 5-putjies, wat ek almal kan bereik (met die tweede hou). Ek benader die baan dié keer heeltemal anders as in die verlede.”

DeChambeau het ’n baie beskeie vertoningslys in dié major. ’n Gesamentlike 21ste plek, toe hy in 2016 as ’n amateur by Augusta meegeding het, is sy beste nog.

Maar dit was voordat die 27-jarige sowat 10 kg se spierkrag en ’n gewillige drywer tot sy mondering gevoeg het.

“Jy kan op TV na hom kyk, maar dit is eers wanneer jy op die bof staan dat jy besef met hoeveel krag hy die bal slaan. Jy kan dit eenvoudig nie glo nie,” sê Andy North, ’n tweemalige Amerikaanse Ope-kampioen en deesdae ’n kommentator.

“Dit is verstommend. Dit verander alles met die meeste sandkuile wat glad nie vir hom in spel is nie.

“Hy kan kortpaaie op die baan vat, wat niemand in die verlede nog kon doen nie,” sê North.

• Daar sal intussen twee voormalige kampioene onder die sewe Suid-Afrikaners wees wat in die toernooi speel, Trevor Immelman (2008) en Charl Schwartzel (2011).

Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen maak hul debuut op Augusta, terwyl Dylan Frittelli, Justin Harding en Louis Oosthuizen ook in aksie is. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Gholf  |  Amerikaanse Meesters  |  Bryson Dechambeau
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.