Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Spiertiere het nie voordeel op Pebble Beach

’n Speler wat op dreef is met sy ysters het ’n ewe groot kans om die Amerikaanse Ope-gholftoernooi op Pebble Beach te wen as die manne wat hul bofhoue naby of verder as 300 treë (sowat 275 m) slaan.

Dustin Johnson behoort dus nie ’n noemenswaardige voordeel bo iemand soos Zach Johnson in die derde major-toernooi van die jaar te hê nie.

Kan Tiger vandeesweek die horlosie terugdraai op Pebble Beach? – ’n baan waar hy die Amerikaanse Ope in 2000 met 15 houe gewen het. Foto: Getty Images

Brooks Koepka verdien die gunsteling-etiket saam met spelers soos Rory McIlroy en Dustin Johnson, terwyl Tiger Woods voorspelbaar genoeg die meeste aandag sal kry.

Daar is egter konsensus onder die kenners dat enige speler kan verras – soos in 2010 toe Graeme McDowell, wat destyds 37ste op die wêreldranglys was, in die vorige Amerikaanse Ope by die Pebble Beach-baan met een hou geseëvier het.

Die Fransman Gregory Havret, wat vooraf nie eens as ’n buiteperd gereken is nie, was tweede.

Die verwagting is dat baie meer spelers ’n kans het in vergelyking met die afgelope PGA-kampioenskap op Bethpage Black, ’n baan wat die korter slaners se aanslag feitlik verydel het nog voordat hulle afgeslaan het.

Dit was geen toeval nie dat Koepka en Dustin Johnson, wat albei die bal ’n myl ver slaan, onderskeidelik eerste en tweede geëindig het.

Pebble Peach, wat ’n baansyfer van 71 houe het, is op 6 470 m aansienlik korter as die Bethpage-baan (6 821 m) en die bal behoort lekker op die skoonvelde te rol.

Talle skoonvelde sal wel nou wees en die sukkelveld – soos tradisioneel die geval in die Amerikaanse Ope – verdoemend.

“Om die bal ver te slaan is een van die minder belangrike faktore op Pebble Beach,” sê Brad Faxon, wat agt toernooie in die Amerikaanse PGA-reeks gewen het.

“Ek dink dit gee soveel verskillende tipe spelers ’n groter kans. Op Pebble Beach is kennis van die baan van groter belang as in die meeste ander groot toernooie. Jy moet regtig weet waar om die bal op die setperke te slaan.

“Ek sê nie Koepka, Dustin en Rory gaan nie aanspraak maak nie. Ek dink wel jy sal sien dat meer (Jim) Furyks en Zach Johnsons se name onder die voorlopers verskyn.

“En dan moet jy jou storie op die setperke ken. Op byna elke putjie draai die bal meer op die setperke as waaraan die spelers gewoond is.

“Daar is kwalik ’n sethou wat jy nie twee of drie balle links of regs van die blikkie mik nie – selfs kort sethoue,” sê Faxon.

Suid-Afrika se agt verteenwoordigers by Pebble Beach is Louis Oosthuizen, Branden Grace, Justin Harding, Erik van Rooyen, Dean Burmester, Justin Walters, Merrick Bremner en die amateur Jovan Rebula.

Dit bring Woods in die prentjie. Mis hy ’n sethou, sal dit nie wees vanweë sy gebrekkige kennis nie.

Woods het in 2000 die Amerikaanse Ope met ’n verstommende 15 houe op dié baan gewen en het sedertdien baie welslae op Pebble Beach behaal.

Daar is ’n legio vrae wat Sondag op dié skilderagtige baan beantwoord sal word.

Kan Phil Mickelson die ontwykende Grand Slam beklink op ’n baan waar hy vier maande gelede die Pebble Beach Pro-Am gewen het?

Kan Dustin Johnson uiteindelik ’n tweede major wen – nege jaar nadat sy voorsprong ná die derde ronde soos mis voor die son verdwyn het in die 2010-Ope op die einste baan?

Of kan Koepka die byna ondenkbare doen en die eerste man in meer as ’n eeu word wat drie keer agtereenvolgens die Amerikaanse Ope verower? – Reuters

* Suid-Afrika se agt verteenwoordigers by Pebble Beach is Louis Oosthuizen, Branden Grace, Justin Harding, Erik van Rooyen, Dean Burmester, Justin Walters, Merrick Bremner en die amateur Jovan Rebula.

* TV: Donderdagmiddag van 16:00 op SS 1.

Meer oor:  Gholf  |  Pebble Beach  |  Amerikaanse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.