Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Stenson lê nie wakker oor Hongkong

Die Sweedse gholfspeler Henrik Stenson sê hy is glad nie bekommerd oor sy veiligheid voor vandeesmaand se Hongkong-Ope nie.

’n Paar sportbyeenkomste in dié stad is reeds afgestel weens die laaste paar maande se gewelddadige protes teen die regering.

Dit lyk egter of die Hongkong-Ope, wat op 28 November begin, sal voortgaan.

Henrik Stenson van Swede sê hy voel veilig waar hy ook al in die wêreld speel. Foto: Getty Images

Stenson glo die toernooi in Fanling sal veilig wees vir die spelers en toeskouers.

“Ek was nog nooit regtig bekommerd om na enige plek in die wêreld te reis vir gholf nie,” sê Stenson, ’n voormalige Britse Ope-kampioen.

“Die Europese reeks stel altyd die veiligheid van spelers en toeskouers eerste. Ek laat dit in hul hande. Hulle reël die toernooi en wanneer hulle sê die toernooi gaan voort, is ek gereed om te speel.

“Ek is glad nie bekommerd nie.”

Hongkong word sedert Junie lamgelê, toe betogings begin het oor ’n omstrede wetsontwerp waarvolgens wetsoortreders aan China uitgelewer kan word. Dit is intussen teruggetrek.

Die betogings teen die regering duur egter voort en het al hoe gewelddadiger geword.

Die Hongkong-Ope-vrouetennistoernooi, wat verlede maand sou plaasvind, is afgestel, asook die Hongkongse muurbaltoernooi.

Die gholftoernooi is die eerste in volgende jaar se Europese reeks se Race to Dubai.

Stenson het verlede naweek 20ste geëindig in die WGC-Kampioenetoernooi in Sjanghai, China.

Hy sal volgende week aan die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City deelneem voordat hy in die DP-Wêreldkampioenskap (die Europese reeks se eindtoernooi) in Dubai sal afslaan en daarna in Hongkong.

“Wanneer die wêreld se voorste 78 spelers deelneem, is dit nie ’n slegte week as jy 20ste eindig nie, selfs al mik jy hoër,” sê Stenson.

“Dit is ’n goeie begin vir ’n toer van vier of vyf weke.

“Ek het ’n paar dae om te oefen voor Sun City. As jy hard werk, sal jy beloon word. Dalk gebeur dit in Hongkong.” – Reuters

Meer oor:  Henrik Stenson  |  Gholf  |  Hongkong-Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.