In die 11 maande sedert Jean-Paul Strydom in 2019 die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap gewen het, het hy veel meer frustrasie as vreugde op die gholfbaan beleef.

Die Kapenaar Jean-Paul Strydom is ná die eerste ronde van die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap voor met een hou. Foto: Gallo Images
Die polsgewrig-besering wat hom vir ’n groot deel van 2019 op die kantlyn gehou het en die daaropvolgende stryd om sy beste peil te herwin, was egter Donderdag vergete toe dié 28-jarige Strydom die verdediging van sy Toer-kroon perfek begin het.
Hy het die eerste ronde van die toernooi met ’n voorsprong van een hou afgesluit, ná ’n 66 (ses houe minder as baansyfer) by die Serengeti-gholfbaan buite Kempton Park.
Die Kapenaar het vyf voëltjies tussen die 10de en 18de putjies (sy eerste nege van die dag) ingeryg. Twee meer het ná die draaislag gevolg, om sy neus voor dié van Thriston Lawrence, Garrick Higgo, Haydn Porteous, Daniel Greene en Rhys Enoch te hou.
“Ek dink ek het net twee of drie skoonvelde gemis, so ek was skerp van die bof af. Dit was ook ’n groot bonus dat ek drie voëltjies in ’n ry aangeteken het (van die 16de tot die 18de putjies). Die laaste nege putjies (van Serengeti) is altyd ’n groter uitdaging (as die eerste nege), want die wind kom in, maar ek is gewoond aan wind,” sê hy.
Higgo, wat saam met Strydom voor was tot ’n brouhou op sy laaste putjie, kon breed glimlag ná ’n ronde wat hom op koers gehou het om as Nuweling van die Jaar gekroon te word. Hy het goeie kortspel uitgewys as die sleutel tot sy goeie telling.
Die Toer-kampioenskap gaan vandeesweek nie net oor finale posisies in die toernooi nie, maar ook oor die Sonskynreeks se geldlys, wat Sondag gefinaliseer word.
Die stryd tussen J.C. Ritchie en Danie van Tonder (die enigste twee spelers wat nog as die geldwenner gekroon kan word) woed fel, met Ritchie Donderdag net ’n hou beter as Van Tonder.
Ritchie, wat byna R135 000 beter daaraan toe is op die geldlys as Van Tonder, is gesamentlik 11de by Serengeti ná ’n 69 (-3), wat ses voëltjies ingesluit het. Van Tonder kan egter danksy ’n ronde van 70 steeds groot droom. Hy moet in die top-2 eindig om ’n kans te hê om die geldkroon te verower en met ’n agterstand van net vier houe is dit nog moontlik.