Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Sun City-toernooi soek nuwe datum
Shane Lowry vier sy sege in verlede jaar se Britse Ope by Royal Portrush in Noord-Ierland. Die volgende Ope sal eers in Julie volgende jaar beslis word. Foto: Getty Images

Die organiseerders van die Britse Ope wou beslis nie die gevaar loop om later vanjaar ’n afgewaterde major-toernooi aan te bied en het derhalwe vanjaar se toernooi gekanselleer.

Só het die bekende Suid-Afrikaanse gholfkommentator Dale Hayes gesê in reaksie op die nuus dat die R&A, die beheerliggaam wat onder meer dié major jaarliks organiseer, die 149ste Ope – van 16 tot 19 Julie op die Royal St. George’s-baan in Kent – weens die Covid-19-pandemie afgestel het.

Dit sal nou in Julie aanstaande jaar op Royal St. George’s gespeel word.

Die koronavirus het die internasionale gholfkalender in chaos gedompel, met die Amerikaanse Meesterstoernooi wat die komende naweek op Augusta beslis sou word.

Die plan is nou om die 84ste Meesters van 12 tot 15 November op die kalender in te druk.

“Wat ’n vreemde vooruitsig, geen Britse Ope in Julie of Meesters in April nie,” sê Hayes, wat op sy dag die voorste speler in Europa was.

Hy sê ’n Ope, straks sonder groot name soos Brooks Koepka, Justin Thomas, Dustin Johnson en Tiger Woods, sou dié major afgewater het.

Die gevaar was dat talle van die voorste Amerikaanse spelers nie bereid sou wees om in die huidige omstandighede te reis nie.
Dale Hayes

“Ek dink nie die R&A het veel van ’n keuse gehad as om die Ope na volgende jaar te laat oorstaan nie.

“Die gevaar was dat talle van die voorste Amerikaanse spelers nie bereid sou wees om in die huidige omstandighede te reis nie.

“Hulle is tradisioneel nie ywerig om buite die VSA te speel nie, des te meer vanjaar.”

Hayes sê dit is heeltemal haalbaar om die Meesters-toernooi, wat jaarliks in April gehou word, na November te verskuif.

“Die baan sal nie veel anders speel nie en die weer behoort ook nie ’n probleem te wees nie.

“Ek was al in Januarie by Augusta en het nie veel meer as ’n trui nodig gehad vir die koue nie.

Dale Hayes glimlag ná sy insluiting in Suid-Afrika se sport-heldesaal.Foto: Christiaan Kotze, SASPA

“Dit sal wel interessant wees om te sien wat met die Nedbank-uitdaagtoernooi gebeur. Die Meesters word vir dieselfde week beplan en die Europese reeks se skedule sal sekerlik aangepas word.

“Wie weet, dalk skuif die Nedbank-toernooi terug na vroeg-Desember?”

Die direkteur van die Nedbank-toernooi, Ken Payet, het by navraag aan Netwerk24 bevestig dat daar met die Europese reeks gesprek gevoer word oor ’n nuwe datum.

Die Amerikaanse Ope het ’n nuwe datum in September gekry (17-20 September) en sal steeds op Winged Foot in New York beslis word.

Die PGA-kampioenskap sal volgens beplanning dus vanjaar die eerste major wees wanneer Harding Park in San Francisco die toernooi van 6 tot 9 Augustus aanbied.

* Hoewel die Meesters nou nie meer dié week plaasvind nie, sal SuperSport van Woensdag tot Sondag Meesters-hoogtepunte van vorige jare uitsaai op SS 5.

Gary Player se tweede sege op Augusta in 1974 word Woensdag om 10:00 uitgesaai, gevolg deur sy derde triomf in 1978 om 12:00.

Trevor Immelman en Charl Schwartzel se oorwinnings in onderskeidelik 2008 en 2011, kom Saterdag onderskeidelik om 10:00 en 14:00 aan die beurt.

* Hayes waarsku dat verskeie gholfklubs in Suid-Afrika gaan sukkel om kop bo water te hou ná die staat van inperking weens die koronavirus.

Dit kom nadat die Vaal de Gráce-baan buite Parys onlangs aangekondig het dat hy sy deure sluit.

Dit is baie hartseer, veral omdat dit die enigste baan in die land was wat deur Nick Price ontwerp is.
Dale Hayes

“Dit is baie hartseer, veral omdat dit die enigste baan in die land was wat deur Nick Price ontwerp is.

“Vaal de Gráce was ’n uitstekende baan en hoewel dit sekerlik finansiële probleme gehad het lank voor die virus toegeslaan het, was die virus waarskynlik sy doodskoot.

“Ek glo baie klubs gaan ná die staat van inperking moeilike finansiële besluite moet neem. Veral as die inperking verleng gaan word.”

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Engeland  |  Covid-19  |  Meesters  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.