Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Swak sig beroof Dylan nie van visie

Wanneer jy die eienskappe van ’n goeie gholfspeler lys, is goeie sig sekerlik iets wat jy dink relatief hoog op die lys moet verskyn.

Dylan Frittelli is die perfekte bewys dat dít nie die geval is nie. Die Johannesburger het ’n misvormde kornea in sy een oog en moet met ’n spesiale bril gholf speel. En tog kon dít – en die feit dat sy joggie, John Curtis, self nie baie goed sien nie – hom nie Sondag daarvan weerhou om sy eerste oorwinning in die Amerikaanse PGA-reeks te behaal nie.

Dylan Frittelli word deur sy joggie, John Curtis, gelukgewens ná sy eerste Amerikaanse triomf. Foto: USA Today Sports

Die Suid-Afrikaner het vir hom ’n plek in vandeesweek se Britse Ope, 2020 se Amerikaanse Meesterstoernooi en die eerste deel van die FedExbeker-reeks losgeslaan toe hy die John Deere Classic-toernooi in Illinois Sondag met twee houe gewen het.

Frittelli het sewe voëltjies in ’n foutlose ronde van 64 (-7) aangeteken om op 263 (-21) koning te kraai oor Russell Henley (265).

Henley het self ’n dag om te onthou gehad, met ’n skitterende ronde van 61 (-10).

Frittelli het ná sy triomf Sondag grappies in die mediakamer gemaak oor sy en Curtis se gekombineerde swak sig, terwyl hy hulde gebring het aan die sakdraer wat “die rots in sy loopbaan” is.

“Hy’s nogal blind en ek is halfblind, so wanneer ons die bal moet volg, is dit altyd soos, ‘Waar is dit? Ek kan dit nie sien nie. Kan jy dit sien? Ek weet nie waar dit is nie.’ ” het Frittelli volgens pgatour.com onder groot gelag vertel.

“My sig is seker so 0.75, met astigmatisme in die een oog, en ek het omtrent twee jaar gelede na my oë laat kyk, so wanneer ek terug in Austin (waar hy woon) is, moet ek ’n oogkundige opspoor en ’n nuwe bril kry.”

Sy gebrekkige sig maak Frittelli nietemin nie ’n man sonder visie nie. In sy geval het hy geleer om te fokus op die sielkundige, eerder as die fisieke. In ’n paar moeilike maande, waarin kommer dat hy teen die einde van die jaar sy spelerskaarte in die VSA en in Europa kan verloor, soos ’n berg op sy skouers gelê het, was dit sy behoud.

“Ek het my kop skoongehou,” het hy gesê van sy wonderlike Sondag-ronde, waarin hy ’n agterstand van twee houe aan die begin van die ronde tot ’n oorwinning met twee omgetower het.

“Die plan vir hierdie week was om kreatief te wees en pret te hê. Ek het die laaste tyd baie druk gevoel omdat my Europese vrystelling (wat hy in 2017 met ’n oorwinning in Oostenryk gekry het) aan die einde van hierdie jaar eindig, en ek moontlik my spelersregte hier (in die VSA) by die kwalifiseringskool sou moes probeer behou in ’n tyd wat ek eerder in Europa my kaart sou wou red.

“Hierdie uitslag los daardie probleem gelukkig op, so nou kan ek fokus daarop om weer te klim op die wêreldranglys en terug in die top-50 te kom.

Hy’s nogal blind en ek is halfblind, so wanneer ons die bal moet volg, is dit altyd soos, ‘Waar is dit? Ek kan dit nie sien nie. Kan jy dit sien? Ek weet nie waar dit is nie.
Dylan Frittelli

“Die sleutel die week was my sielkundige uitkyk. Ek weet ek het die fisieke eienskappe en die tegniek om goed te vaar, so ek moet my kop skoonhou en fokus op dit wat voor my is. Dit klink eenvoudig, maar dis wat gholf op hierdie vlak is. As jy die dinge wat jou aandag aflei en die emosies eenkant toe kan skuif, is alles net soveel makliker.”

Frittelli het Sondag net een fout gemaak, toe hy op die 14de putjie drie keer geset het vir syfer, maar sê hy kon daarvan met ’n glimlag wegstap.

“Ek dink nie daar is baie beroepspelers wat kan aanhou glimlag nadat hulle drie keer geset het nie, maar ek probeer om nie te hard op myself te wees nie en om die meeste van die tyd gelukkig te voel.”

* Nadat Frittelli Sondag by die agterdeur van die Britse Ope ingesluip het, sal Suid-Afrika vandeesweek 11 verteenwoordigers by Royal Portrush hê.

Die ander tien is Christiaan Bezuidenhout (wat twee weke gelede die Andalusia-meesterstoernooi gewen het om te kwalifiseer), Branden Grace, Justin Harding, Zander Lombard, Shaun Norris, Brandon Stone, Richard Sterne, Erik van Rooyen en die voormalige Ope-kampioene Ernie Els en Louis Oosthuizen.

Meer oor:  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.