Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger Woods ‘dans’ sonder musiek
Geen toeskouer om hande te klap nie. Tiger Woods nadat hy gister ’n voëltjie op die sewende putjie ingerol het. Foto: Getty Images

Wanneer ’n sportman weens ’n besering twee maande langs die kantlyn was, is sy terugkeer gewoonlik nie vuurwerke nie – behalwe natuurlik as jou naam Tiger Woods is.

Dié 43-jarige Amerikaner het ná gister se tweede ronde by die Zozo-gholftoernooi in Tokio, Japan, ’n voorsprong van twee houe bo sy landgenoot Gary Woodland. Vir die grootste gedeelte van die dag moes die spelers dit in sopnat toestande uitspook – iets wat blykbaar nie vir Woods ’n probleem is nie.

Hy het die dag afgesluit op 64, ses onder baansyfer, nadat hy twee voëltjies op die laaste twee puntjies behaal het. Dit het hom op 128, 12 houe onder baansyfer, geplaas.

Nog ’n Amerikaner, Keegan Bradley, en Hideki Matsuyama van Japan, bevind hulle gesamentlik in die derde plek op 132. Bradley het 63 op sy telkaart ingevul ná die tweede ronde, terwyl Matsuyama die dag op 67 voltooi het.

Dis ’n eensame pad, swaer. Tiger Woods tydens gister se tweede ronde van die Zozo-gholftoernooi in Tokio, Japan, met geen ondersteuner in sig nie. Foto: Getty Images

Nadat daar Vrydag sowat 150 mm reën geval het, het die baan tog op ’n manier wonderbaarlik droog geword. Maar wonderliker was Woods se spelpeil, nadat hy in Augustus ’n knieoperasie ondergaan het.

“Ek het vandag taamlik goed gevoel. Ek het die bal ’n bietjie beter as gister geslaan – wat lekker is.

“Die setperke is sag, dit is ’n bietjie stadiger vandag. Ek het baie van my houe onder die gaatjie gelos en was in staat om taamlik aggressief te speel,” het Woods volgens Reuters gesê.

Weens die nat toestande is toeskouers nie langs die baan toegelaat nie, omdat daar vrese vir hul veiligheid was. En hoewel dit vir dié wenner van 15 Grand Slam-toernooi “snaaks” was dat daar nie ’n handeklap was elke keer dat hy die bal in die gaatjie gerol het nie, was dit dalk presies wat Woods nodig gehad het – sodat hy op sy eie spel kan fokus.

Hy het immers maar ’n flou begin in die eerste ronde gehad, voordat hy wakkergeskrik en nege voëltjies op die laaste 15 putjies aangeteken het. Dit het hom en Woodland in die gesamentlike eerste plek geplaas ná die eerste ronde.

“Ek het vandag (gister) ’n paar keer wanneer ek die bal in die gaatjie gekry het my hand opgesteek en dan besef dat ek dit nie moet doen nie, want daar is niemand wat hande klap nie.

“So, ek het net gekonsentreer op wat ek moet doen, om boaan die telbord te wees, en ek was in staat om dit te doen,” het Woods volgens Reuters gesê.

Daar is natuurlik baie meer vir Woods op die spel as bloot ’n oorwinning, wat natuurlik gepaardgaan met die tjek as kampioen en nog ’n bietjie roem. Want ’n sege sal beteken dat hy met 82 oorwinnings op die PGA Tour spog en daarmee Sam Snead se rekord ewenaar.

Maar dalk die belangrikste is die kwessie van die Presidentsbeker wat van 12-15 Desember in Melbourne, Australië, beslis word. Woods is reeds as die kaptein van die Amerikaanse span aangewys, maar was nie een van die voorste agt spelers wat outomaties gekwalifiseer het nie.

Maar een van die voorregte daarvan om kaptein te wees, is dat hy die span moet kies.

“My werk as kaptein is om die beste moontlik span saam te stel, om te probeer om die 12 beste spelers te kies,” het Woods in Augustus volgens Reuters gesê

“Ek sal openlik met die voorste agt spelers en my onderkapteins gesels en ons sal beslis praat of ek moet speel of nie. Uiteindelik sal dit my besluit wees.”

So ’n sege in Japan sal beteken dat Woods dalk nie skuldig hoef te voel as hy homself kies nie.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Tokio  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.