Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger en Manning bo teen Phil-hulle
Die voormalige Amerikaanse voetbalster Peyton Manning help Tiger Woods om op die regte lyn op ’n setperk te besluit. Foto: Getty Images

Tiger Woods en die voormalige Amerikaanse voetbalster Peyton Manning het Sondag ’n laat aanslag van Phil Mickelson en Tom Brady (een van die grootste sterre in die Amerikaanse Voetballiga) afgeweer om dié spanne se gholfstryd met een putjie te wen.

Die viertal het met hulle vertoonstryd op die Medalist-baan in Hobe Sound $20 miljoen (sowat R350 miljoen) vir Covid-19-verligting ingesamel.

Woods, ’n 15-malige major-kampioen, en Manning, wat in sy loopbaan twee keer in ’n Superbowl-kampioenspan gespeel het, het vroeg ’n voorsprong van drie putjies opgebou.

Woods se bofhoue was akkuraat en Manning se setwerk betroubaar.

Mickelson, wat sover in sy loopbaan vyf majors gewen het, en Brady het op die agterste nege binne trefafstand gekom toe hulle die 11de en 14de putjies gewen het.

Dit was egter vergeefs, met Woods wat op sy tuisbaan se 18de met ’n puik sethou daarvan seker gemaak het dat daar nie ’n uitspeelstryd is nie.

Die beste hou van die dag het egter aan Brady, wat vanjaar by die Tampa Bay Buccaneers aangesluit het nadat hy sedert 2000 ’n staatmaker vir die New England Patriots was, behoort.

Sy naderhou van die sewende putjie se skoonveld het die blikkie gevind.

Woods, wat in 2018 in ’n vertoonstryd teen Mickelson verloor het toe daar $9 miljoen op die spel was, het Manning en Brady bedank vir hulle bereidwilligheid om saam gholf te speel.

Phil Mickelson (links) en Tom Brady tydens ’n reënbui wat uitgesak het toe hulle op die 13de putjie van hul vertoonwedstryd teen Tiger Woods en Peyton Manning was. Foto: USA Today Sports

“Ons het bymekaar gekom en kon $20 miljoen insamel vir diegene wat baie behoeftig is.

“Ek haal my hoed af vir Tom en Peyton. Dit is ons (Woods en Mickelson) arena en dit is wat ons doen vir ’n lewe.

“Ek kan nie dink hoe ek op die (voetbal)veld sou kon gaan en doen wat hulle vermag het nie,” het Woods met ’n groot glimlag gesê.

Woods het aangedui dat hy weer gereed is om op die hoogste vlak mee te ding wanneer die PGA-reeks op 11 Junie sy terugkeertoernooi aanbied.

Hy het laas in Februarie gespeel voordat hy hom weens ’n rugbesering aan ’n paar toernooie onttrek het.

Die reeks is toe in Maart onbepaald uitgestel weens die Covid-19-pandemie.

Mickelson het in Februarie derde geëindig in die Pebble Beach Pro-Am, waarna hy in sy volgende twee toernooie aan die verkeerde kant van die afsnypunt was. – Reuters

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Phil Mickelson  |  Amerikaanse Voetbal  |  Tom Brady
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.