Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Een lot, uiteenlopende emosies

Hul lot was dieselfde: ’n Vrydagaand van wonder oor wat kon wees en ’n naweek sonder gholf.

Tiger Woods Foto: Getty Images

En tog kon die emosies waarmee Rory McIlroy en Tiger Woods Vrydag by die hekke van Noord-Ierland se Royal Portrush uitgery het, nie verder van mekaar verskil nie.

Vir die Amerikaanse legende: vrae en frustrasie, wanhoop en woede. Vir die Noord-Ierse held: vreugde en verligting, geluk en genot.

Sowel Woods as McIlroy het Vrydag onder die valbyl by die jaar se laaste major-toernooi beland, as straf vir Donderdag-rondes propvol rampspoed.

Vir Woods was dit ’n uitslag sonder enige positiewes. Met net tien mededingende rondes tussen sy Amerikaanse Meesters-triomf in April en die begin van die Ope was dit te verwagte dat hy verroes en flou sou wees. Maar dít was uiteindelik nie wat hom gepootjie het nie, het die Amerikaner gesê.

Dit was eerder sy gelapte rug en die eise wat gholf al hoe meer op sy 43-jarige lyf plaas wat sy doppie geklink het.

“Dit is een van die moeilikste dinge om te aanvaar, dat jy as ’n ouer atleet nie meer so bestendig gaan wees soos op 23 nie,” het Woods volgens CNN met ’n moeë stem aan die mediakorps gesê.

“Dinge is nou moeilik. Ek gaan my warm weke hê en in die wedloop wees om te wen. Maar daar gaan ook tye wees dat ek net nie in die prentjie gaan wees nie.

“Dit was nie die geval 20 jaar gelede nie, toe ek ’n ander lyf gehad het en bestendiger kon wees.”

Die hangskouers waarmee Woods van die baan gestap het, was in skerp kontras met McIlroy se lyftaal. Vir die oningeligte kon McIlroy niks anders nie as tranerig wees nadat hy die afsnypunt van sy geboorteland se eerste Britse Ope in 68 jaar met net een hou gemis het.

Maar daardie oningeligte sou die vorige vyf uur van McIlroy se lewe dan ook misgekyk het.

Die 30-jarige gholfster het Vrydag ’n yslike 14 houe beter as Donderdag gevaar, met ’n ronde van 65 wat sewe voëltjies en ’n brouhou ingesluit het. Dit was die beste telling wat enige speler op die eerste twee dae van die toernooi kon aanteken – maar steeds te min en te laat.

Tog was dit ’n dag wat McIlroy met ’n vol hart gelaat het.

“Ek sal altyd aan dié dag dink met niks minder nie as mooi herinneringe en positiwiteit,” het hy gesê. “Ek het regtig die skare se liefde gevoel – so baie van hulle het my na die naweek probeer dra.

“Dit gaan ’n ruk lank seermaak, want ek het lank na die week uitgesien. Maar die ondersteuning wat ek gekry het, was ongelooflik.”

.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Britse Ope  |  Rory Mcilroy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.