Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger-hulle laat spat TV-rekord in Amerika

Die gholfstryd waarin Tiger Woods, Phil Mickelson en die Super Bowl-legendes Tom Brady en Peyton Manning Sondag geld vir Covid-19-verligting ingesamel het, het al gholf se vorige rekords op kabeltelevisie in dié land verbeter.

Tiger Woods het sy ondersteuners gaande gehad met sy spel Sondag in The Match II. Foto: Getty Images

Turner Sports sê The Match II, soos dié kompetisie genoem is, het gemiddeld 5,8 miljoen kykers gelok op vier van sy netwerke (TBS, TNT, TruTV en HLN) waarop dit uitgesaai is. Dit maak dit die mees gekykte gholfgebeurtenis in die geskiedenis van Amerikaanse kabeltelevisie.

Dié titel het vir meer as ’n dekade behoort aan die eerste rondte van 2010 se Amerikaanse Meesterstoernooi, wat ’n gemiddeld van 4,9 miljoen kykers op ESPN gehad het. Dit was Woods se eerste rondte gholf ná die onthulling van sy seksskandale in 2009.

Volgens GolfWorld het die kykergetal van Sondag se stryd ’n hoogtepunt van 6,3 miljoen mense, in die kwartier tussen 17:45 en 18:00 (Amerikaanse ooskus-tyd), bereik.

Die liefdadigheidstryd, waarin Woods en Manning by die Medalist-gholfklub in Florida met 1-voor geseëvier het oor Mickelson en Brady, het meer as $20 miljoen (R350 miljoen) vir die verligting van die Covid-19-pandemie laat inrol.

Phil Mickelson Sondag in aksie by ’n sopnat Medalion-gholfklub. Foto: Getty Images

Dat soveel mense die aksie gevolg het, is natuurlik geen verrassing in die lig van die bykans totale gebrek aan regstreekse sport nie. Boonop was Woods vir die eerste keer in 98 dae weer op die gholfbaan te sien – en die Amerikaanse superster het nie teleurgestel nie.

Woods het in sy laaste toernooi, die Genesis-uitdaagtoernooi in Los Angeles in Februarie, 11 houe meer as baansyfer oor vier rondtes gespeel en las gehad van ’n seer rug.

Daarvan was daar by die Medalist-baan geen teken nie. Sy swaai was ritmies en sy visier perfek ingestel. Die voormalige Amerikaanse PGA-kampioen Justin Thomas, wat as kommentator saam met die viertal gestap het, het vele se gedagtes verwoord toe hy Woods by die 17de putjie beskryf het as ’n masjien wanneer dit daarby kom om die skoonveld met sy bofhoue te vind.

Dit is onseker wanneer Woods weer sal toernooi-gholf speel, maar vanselfsprekend hou gholfliefhebbers styf duim vas dat hy daar sal wees wanneer die PGA-reeks op 11 Junie met die Charles Schwab-uitdaagtoernooi hervat word.

Dié toernooi is een van drie wat in opeenvolgende weke in Junie sal plaasvind – almal sonder toeskouers.

Wat Mickelson betref, sal hy twee dae ná die voltooiing van die Schwab-toernooi, op die 16de Junie, sy 50ste verjaardag vier en dus mag inskryf vir toernooie op die Kampioene-reeks. Soos sake egter tans staan, is dié reeks se bedrywighede tot die einde van Julie gestaak.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Phil Mickelson  |  Tom Brady
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.