Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger kan ‘binne jaar’ weer meeding
Tiger Woods was Dinsdagoggend in ’n motorongeluk. Foto: Getty Images

Tiger Woods kan binne ’n jaar ’n terugkeer tot mededingende gholf maak, maar die herstelpad ná die ernstige beenbeserings wat hy in ’n motorongeluk opgedoen het, sal uitmergelend wees.

Verskeie top- ortopediese chirurge meen die ongeluk waarin die 45-jarige Woods Dinsdag in Los Angeles betrokke was, bedreig nie noodwendig sy loopbaan nie.

Maar hulle is dit eens hy sal moet vasbyt en deursettingsvermoë hê om weer die ou Tiger Woods op die baan te wees.

Hy het “verskeie frakture” aan sy skeen- en kuitbeen in sy regterbeen opgedoen “met bykomende skade aan sy voet en enkel”.

Dit laat vrae oor of Woods weer beroepsgholf sal kan speel, veral in die lig van die lang lys knie- en rugbeserings waarmee hy al oor die jare heen gesukkel het.

Wat ek deur die loop van my loopbaan geleer het, is dat jy nie atlete op dié vlak kan afskryf nie,
Dr. Victor Khabie

Verskeie mediese kenners sê egter dié 15-malige major-wenner kan, op grond van die beskikbare inligting, binne ’n jaar terugkeer.

“Wat ek deur die loop van my loopbaan geleer het, is dat jy nie atlete op dié vlak kan afskryf nie,” sê dr. Victor Khabie, hoofchirurg by die Northern Westchester-hospitaal in Mt. Kisco, New York.

“Ek sou sê ’n jaar. Dit neem gewoonlik 12 tot 16 weke vir die frakture om ten volle gesond te word en dan volg baie maande van intense rehabilitasie.”

’n Polisieman inspekteer die wrak van die motor waarin die Amerikaanse gholfster Tiger Woods in ’n ongeluk was. Foto: AP

Dit is wel nog nie duidelik hoe ernstig die enkelbesering is nie.

Dr. Riley Williams, ’n bekende sportchirurg van New York, voorspel Woods kan in volgende jaar se Amerikaanse Meesterstoernooi (in April 2022) afslaan, sou daar nie enige komplikasies wees nie.

“Hy het die regte sielkundige mondering en is duidelik baie gefokus en gedrewe,” sê Williams, wat die basketbalster Paul George geopereer het toe hy in 2014 soortgelyke beserings opgedoen het.

“Kom ons neem aan sy herstel verloop volgens plan, dan kan ek sien hoe hy binne ses tot 12 maande terug kan wees op die oefenbof.

“Volgende jaar se Meesterstoernooi is beslis binne bereik, met die veronderstelling dat daar nie enige komplikasies is nie.”

Dr. Nicholas DiNubile, woordvoerder van die Amerikaanse Akademie vir Ortopediese Chirurgie, sê elite-atlete is gewoonlik goed gepantser om sulke teëspoed te bowe te kom.

“Die vraag is of Woods op 45 die wilskrag sal hê om deur die herstelproses te wroeg.

Die vraag is of Woods op 45 die wilskrag sal hê om deur die herstelproses te wroeg.
Dr. Nicholas DiNubile

“Van dít wat ek al van Tiger Woods gelees en gehoor het, is dit duidelik hy is ’n baie taai ou en het al van baie beserings herstel.

“Dit klink of hy op die toneel self uit die wrak wou klim. “Ek sou hom nie afskryf nie, maar sy ouderdom tel wel teen hom.” – Reuters

Meer oor:  Tiger Woods  |  Vsa  |  Chirurgie  |  Gru-Ongeluk  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.