Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger min gepla oor ‘olifant in die kamer’

In die vyf weke sedert Tiger Woods 21ste in die Amerikaanse Ope geëindig het, het hy heeltemal van die radar verdwyn.

Waar die res van die wêreld se top-spelers soveel moontlik voëltjies en arende onder die belt probeer kry het voor die jaar se laaste major-toernooi, het Woods en sy gesin hul tyd verwyl deur toek-toeks en olifante in Thailand te ry.

Ek het verlede jaar ’n bietjie te veel gespeel, my lyf was redelik gaar.

Vir ’n handvol waarnemers is dít, wel, ’n olifant in die kamer. Die voormalige Ryderbeker-kaptein Paul McGinley en Britse Ope-kampioen Pádraig Harrington was die afgelope paar dae voor in die koor van diegene wat meen dat die Amerikaner se ligte program die “Tier” aan die stert gaan byt. Sedert hy die Amerikaanse Meesterstoernooi in April gewen het, het hy immers net tien mededingende rondes gehad.

Volgens berigte was hy Maandag, in sy eerste oefenronde voor vandeesweek se Britse Ope (wat Donderdag op Noord-Ierland se Royal Portrush-baan begin) yskoud en verroes.

Maar Woods sê hy het terwille van sy gesondheid verkies om sy program so op te stel.

“Ek het verlede jaar ’n bietjie te veel gespeel, my lyf was redelik gaar,” het hy Dinsdag volgens The Guardian gesê. “Ongelukkig, ná die operasies wat ek gehad het en met my lyf wat ouer word, wil dinge nie heeltemal so goed werk wanneer dit (soos so dikwels in Brittanje) kouer raak nie.”

Dis ’n wonderlike plek. Almal wat al hier gespeel het, het dit geniet en ek verstaan hoekom. Dis ’n merkwaardige gholfbaan.

Die Amerikaner het gesê die belange van sy familie het swaarder as enigiets anders geweeg toe hy besluit het hoe om sy tyd tussen die jaar se laaste twee major-toernooie van die gholfbaan af deur te bring.

“Ons het die kans gehad om Thailand toe te gaan (waar Woods se ma, Tida, gebore is). Ma se gesondheid . . . jy weet, sy is 75 jaar oud, so sy sukkel ’n bietjie. Oorsese reise soos hierdie is nie iets wat sy regtig meer soveel kan doen nie, so ons wou hê die kinders moet dit een laaste keer saam met haar beleef,” het Woods verduidelik.

“Dit was wonderlik. Ons het die Grand Palace gesien, op olifante gery, in toek-toeks in Bangkok – ’n klomp klein dingetjies wat die kinders (die 11-jarige Sam en 10-jarige Charlie) vir altyd sal onthou.”

Tiger Woods dink hard oor sy volgende hou toe hy Maandag die eerste keer met die Royal Portrush-baan in Noord-Ierland kennis gemaak het. Foto: AP

Ondanks die gebrek aan gholf-fiksheid waarmee hy Royal Portrush se eerste Britse Ope in 68 jaar Donderdag sal afskop, is Woods nie bekommerd dat dié skouspelagtige linksbaan sy nommer sal hê nie. Sy ervaring en sy brein sal hom help, glo hy.

“Daar is ’n kuns aan linksgholf,” het hy gesê. “Jy sê nie, ‘oukei, ek het 152 treë, gee aan die nege-yster’ nie. Hier kan 152 ’n grondlangse hou met ’n sandyster wees. Of ’n kaphou met ’n ses-yster. Dit kan ’n klomp verskillende houe wees.”

Oor Portrush, waar Woods nog nooit voorheen gespeel het nie, kon hy nie uitgepraat raak nie.

“Dis ’n wonderlike plek. Almal wat al hier gespeel het, het dit geniet en ek verstaan hoekom. Dis ’n merkwaardige gholfbaan,” het hy gesê.

* Louis Oosthuizen, die Britse Ope-kampioen van 2010, sal die eerste twee rondes van vanjaar se toernooi Donderdag en Vrydag in die geselskap van die viermalige major-wenner Brooks Koepka begin.

Oosthuizen is een van die 11 Suid-Afrikaners op Portrush – en ná drie maande waarin hy in al drie 2019 se eerste majors stem dik gemaak het, is hy beslis ’n speler wat fyn dopgehou moet word.

Dylan Frittelli sal hoop Noord-Ierland is so goed vir hom soos Illinois was toe hy die afgelope naweek sy eerste Amerikaanse PGA-toernooi gewen het, terwyl Christiaan Bezuidenhout onlangs genoeg in die wenkampie was (verlede maand in die Andalusia-meesterstoernooi) om met selfvertroue vir sy eerste Britse Ope aan te tree.

Die ander agt Suid-Afrikaners is Ernie Els, Brandon Stone, Justin Harding, Branden Grace, Shaun Norris, Richard Sterne, Zander Lombard en Erik van Rooyen.

Afslaantye

Hier is die afslaantye van die 11 Suid-Afrikaners, asook uitgesoekte internasionale spelers in Donderdag se eerste ronde in die Britse Ope op Royal Portrush in Noord-Ierland:

07:57 – Andy Sullivan (Eng), Christiaan Bezuidenhout (SA), Alexander Levy (Fra)

08:08 – Chan Kim (VSA), Zander Lombard (SA), Brandon Wu (VSA)

08:19 – Richard Sterne (SA), Romain Langasque (Fra), Matthias Schmid (Duits)

08:52 – Phil Mickelson (SA), Shane Lowry (Ier), Branden Grace (SA)

09:25 – Ryan Palmer (VSA), Andrea Pavan (Ita), Dylan Frittelli (SA)

10:14 – Henrik Stenson (Swe), Xander Schauffele (VSA), Graeme McDowell (N-Ier)

10:58 – Francesco Molinari (Ita), Bryson DeChambeau (VSA), Adam Scott (Aus)

11:09 – Rory McIlroy (N-Ier), Gary Woodland (VSA), Paul Casey (Eng)

11:20 – Rickie Fowler (VSA), Hideki Matsuyama (Jap), Kevin Kisner (VSA)

13:20 – Erik van Rooyen (SA), Kurt Kitayama (VSA), Jake McLeod (Aus)

13:31 – Ryan Fox (NSL), Shaun Norris (SA), Dongkyu Jang (S-Kor)

13:53 – Justin Thomas (VSA), Tommy Fleetwood (Eng), Thorbjorn Olesen (Den)

14:04 – Brooks Koepka (VSA), Louis Oosthuizen (SA), Shubhankar Sharma (Ind)

14:26 – Jordan Spieth (VSA), Danny Willett (Eng), Marc Leishman (Aus)

14:48 – Paul Lawrie (Skot), Chez Reavie (VSA), Justin Harding (SA)

15:04 – Takumi Kanaya (Jap), Tom Lewis (Eng), Brandon Stone (SA)

15:26 – Ernie Els (SA), J.B. Holmes (VSA), Abraham Ancer (Mex)

15:59 – Dustin Johnson (VSA), Jason Day (Aus), Keegan Bradley (VSA)

16:10 – Tiger Woods (VSA), Matt Wallace (Eng), Patrick Reed (VSA)

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Royal Portrush  |  Britse Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.