Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger: Ouer, seerder . . . beter

Tiger Woods was nooit ’n man wat gehou het van tweede eindig nie. Dit het Sondag verander.

In die 40 jaar wat hy al gholfstokke swaai, het geen tweede plek immers ooit soveel bewys soos dié wat hy in die 100ste PGA-kampioenskap by Bellerive in Missouri behaal het nie.

Kyk hoe brul die Tier weer! Tiger Woods het Sondag die horlosie teruggedraai om tweede in die PGA-kampioenskap te eindig. Foto: AP

Woods het die horlosie Sondag teruggedraai na sy gloriedae om twee houe agter die 28-jarige Brooks Koepka te eindig in die jaar se laaste grote. In die 80ste Grand Slam-toernooi van sy lang loopbaan, tien jaar ná sy laaste Slam-sukses en met ’n lyf wat hy ’n jaar gelede ná sy vierde rugoperasie uit sy bed moes rol, het hy die Bellerive-skare uit hul nate laat bars.

Woods het die toernooi afgesluit met ’n 64 (-6), sy laagste laaste ronde ooit by ’n Grand Slam. Die 130 houe wat hy in sy laaste twee rondes gespeel het, is die minste ooit oor 36 Grand Slam-putjies. En sy telling van 266 is sy laagste ooit in ’n grote – laer as die 269 (-19) waarmee hy 2000 se Britse Ope gewen het en die 270 (-18) waarmee hy Augusta vir sy eerste Meesterstriomf oorrompel het.

Sulke rekords, op 42? Laat in ’n loopbaan wat reeds 14 Grand Slam-titels opgelewer het?

Ja, dit het Woods ook verras.

“Ek was in die wedloop in albei die laaste Grand Slams en sou dit nooit ’n jaar terug kon voorsien nie. Ek is so dankbaar om hier te wees,” het Woods, wat verlede maand vir ’n paar minute voor was op die Sondag van die Britse Ope, volgens die Europese reeks se webtuiste gesê.

As jy aan die begin van die jaar gesê het ek sou ’n regte kans hê om die laaste twee Grand Slams te wen, sou ek gesê het: ‘Wat? Met dié swaai?’
Tiger Woods

“Ek het nie geweet hoe my skedule sou lyk nie. Ek het nie geweet hoeveel toernooie ek vanjaar sou speel, of selfs óf ek eens sou speel nie. So elke toernooi het sy eie uitdagings gebring.

“As jy aan die begin van die jaar gesê het ek sou ’n regte kans hê om die laaste twee Grand Slams te wen, sou ek gesê het: ‘Wat? Met dié swaai?’ Ek het geen spoed in my swaai gehad nie. My setwerk was oukei, maar ek het in twee jaar nie gespeel nie. So dit was ’n helse proses.”

Woods het tussen 1997 en 2008 14 Grand Slams verower en daar was niemand wat getwyfel het dat hy Jack Nicklaus se rekord van 18 sou oortref nie. Maar terwyl eers ’n persoonlike skandaal en egskeiding en daarna ’n rits beserings hom gekniehalter het, het die gholfwêreld daarmee begin vrede maak dat Woods se beste gholfdae agter hom was.

Niemand dink nou meer so nie.

Die Amerikaner het Sondag oor die eerste nege putjies nie een skoonveld van die bof af bereik nie – en tog vier voëltjies aangeteken. Hy het twee derdes van die setperke in regulasiehoue bereik en geset soos in sy gloriedae. Het sy bal nie by die 11de ’n sentimeter voor die blikkie gestop nie, of sy bofhou by die 17de nie so skeef getrek nie, sou hy Koepka dalk kon inkatrol.

Maar in Koepka het Bellerive Sondag ’n Tiger 2.0 gesien: ’n man met ys in die are, verstommende akkuraatheid en ’n onstuitbare wil om te wen. Hy sou hom nooit maklik laat vang nie.

Vir Woods was daar uiteindelik geen trofee om oor te kraai nie. Maar hy was nietemin ’n wenner.

Vir ’n verandering gaan almal onthou wie dié keer tweede geëindig het.

Brandon Stone se 12de plek is sy beste uitslag tot nog toe in ’n Grand Slam. Hy het Sondag 66 houe gespeel. Foto: AP

* Die beste Suid-Afrikaner by Bellerive was die 25-jarige Brandon Stone, wat ná drie voëltjies oor die laaste nege putjies ’n 66 aangeteken het om 12de te eindig.

Charl Schwartzel, wat ná 54 putjies die voorste Suid-Afrikaner was, het teruggeval tot 42ste ná ’n foutbesaaide 75.

Branden Grace was 27ste en Dylan Frittelli 31ste.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Brooks Koepka  |  Pga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.