Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger steel die kollig by Carnoustie

Dit is die dag waarvoor gholfliefhebbers van reg oor die wêreld so lank gewag het: die maestro van weleer Tiger Woods wat op ’n Sondag binne trefafstand is, met ’n troonopvolger soos Jordan Spieth in sy visier.

Tiger Woods was Saterdag op sy stukke. Foto: Getty Images

Die 42-jarige Woods het die horlosie teruggedraai toe hy die derde ronde van die 147ste Britse Ope in 66 houe (-5) op Carnoustie aangeteken het.

Die Ope-kampioen in 2000, 2005 en 2006 het op die syfer-5 14de putjie met ’n voëltjie sy naam tydelik boaan die telbord aangebring.

Inderdaad die ondenkbare: Woods wat weer voorloop in een van die vier grotes.

Wanneer hy later vandag sekerlik met ’n rooi hemp by die eerste bof aantree, sal hy vier houe agter die voorlopers begin.

Ondanks Woods se heldedade het die dag egter aan die verdedigende kampioen, Spieth, behoort.

Met Spieth is dit ’n geval van hoe later, hoe beter. Hy het sy pogings van 72 en 67 met ’n skitterende 65 (-6) opgevolg vir ’n toernooitelling van 204, wat nege houe beter as die baansyfer is.

Daar is twee Amerikaners, Xander Schauffele (67) en Kevin Kisner (68), wat saam met Spieth die louere deel voor die vierde ronde.

Die Suid-Afrikaanse duo Zander Lombard en Erik van Rooyen is albei vyf houe agter dié drietal.

Lombard, wat vir ’n tweede dag agtereenvolgens ’n gelyk-aan-baansyfer-71 op sy telkaart ingevul het, het sy dag op ’n hoogtepunt afgesluit, met ’n arend op die syfer-4 18de.

Van Rooyen, wat ook die ronde in 71 houe voltooi het, kon naby aan die voorlopers gewees het, was dit nie vir die vier brouhoue wat hy oor die laaste nege putjies afgestaan het nie.

Die oggend het aan Justin Rose van Engeland behoort.

Rose was Vrydagmiddag in die tweede ronde in ’n verbete stryd om die afsnypunt te oorleef, maar was in die derde ronde briljant op dreef.

Sy 64, sewe houe beter as die baansyfer, was klinies en hy het net 30 houe nodig gehad om sy laaste nege putjies af te handel.

Rose het toe hy klubhuis toe is, 59 plekke op die telbord geklim.

Hy en die Italianer Francesco Molinari het met die beste rondtes van die derde dag gepronk.

Meer oor:  Britse Ope  |  Carnoustie  |  Tiger Woods  |  Jordan Spieth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.