Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Tiger verras met keuse van ‘vurige’ Patrick

Sommige gholfliefhebbers het gedink dis die laaste sien van Patrick Reed in Amerikaanse kleure ná sy uitbarsting in die nadraai van verlede jaar se Ryderbeker-nederlaag teen Europa. Tiger Woods het dit egter nie teen hom gehou nie en dié voormalige Meesterskampioen vir die Presidentebeker-toernooi by sy span ingesluit.

Woods het homself, Reed, Gary Woodland en Tony Finau Donderdag as die kapteinskeuses vir aanstaande maand se toernooi in Melbourne onthul.

Patrick Reed (links) en Tiger Woods deel vroeër vanjaar ’n grappie in die Britse Ope. Foto: Getty Images

As Woods ’n ruk lank kopgekrap het oor Reed se insluiting, sou niemand hom verkwalik het nie.

Woods en Reed het as ’n kombinasie teleurgestel in verlede jaar se Ryderbeker-toernooi in Frankryk en het albei hul wedstryde verloor. Europa het uiteindelik die kragmeting oortuigend met 17.5-10.5 gewen.

Reed het agterna sout in Amerikaanse wonde gevryf in ’n omstrede onderhoud met The New York Times, waarin hy onder meer sy spanmaat Jordan Spieth onder die bus gegooi het omdat dié nie saam met hom in Parys wou speel nie. Hy het ook beweer dat Woods vir hom jammer gesê het oor sy swak spel.

Reed was nog nooit as die diplomatiese tipe bekend nie, maar die wyse waarop hy sy span se vertoning teen Europa gekritiseer het, is wyd deur kenners en voormalige spelers veroordeel.

Nou, 13 maande later, sê Woods egter dis nie nodig om ou koeie uit die sloot te grawe nie.

“Jy kry nie vuriger karakters as Patrick nie. Hy bloei rooi, wit en blou en sal enigiets doen om punte vir jou span in te samel. En dis presies wat ek soek,” het Woods, Amerika se kaptein, sy keuse verduidelik.

“Wanneer hy op die gholfbaan stap, weet jy hy gaan absoluut alles gee. Dis bewonderenswaardig.”

Wanneer hy op die gholfbaan stap, weet jy hy gaan absoluut alles gee. Dis bewonderenswaardig.
Tiger Woods

Woods glo ook sy spanmaats sien daarna uit om hom deel van die span te hê.

In sy twee vorige verskynings in Presidentebeker-toernooie, het Reeds vier oorwinnings behaal, drie nederlae gely en twee wedstryde gehalveer. Hy was egter een van sy land se groot helde toe Amerika die Presidentebeker in 2017 by Liberty National in New Jersey verower het.

Woods hoef hom ook nie te bekommer oor hoe Reed en Spieth dié keer oor die weg gaan kom nie aangesien Spieth, ná ’n teleurstellende jaar, nie die Amerikaanse span gehaal het nie.

Reed het Woods in ’n verklaring vir sy insluiting bedank. “Ek het Tiger laat weet hoe geëerd ek voel dat hy my gekies het en dat hy op my kan staatmaak.”

Die volledige Amerikaanse span wat van 12 tot 15 Desember teen Ernie Els se Internasionale span te staan kom, is: Brooks Koepka* (nr. 1 op wêreldranglys), Dustin Johnson (3), Justin Thomas (4), Patrick Cantlay (6), Tiger Woods (7), Xander Schauffele (9), Bryson DeChambeau (10), Webb Simpson (11), Tony Finau (14), Patrick Reed (15), Gary Woodland (16) en Matt Kuchar (22).

* Koepka herstel nog van ’n kniebesering en sy deelname aan die toernooi is nog onseker.

Meer oor:  Presidentebeker  |  Tiger Woods  |  Gholf  |  Patrick Reed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.