Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Toekoms is blink, sê Ernie ná nederlaag

Ernie Els was ’n hartgebroke man nadat sy Internasionale span die 13de Presidentebeker Sondag in Melbourne met ’n skrale twee punte verloor het – maar trotser op die 12 spelers in sy spankamer kon hy nie wees nie.

Ernie Els erken die skare se applous ná sy Internasionale span Sondag naelskraap deur Amerika verslaan is. Foto: Getty Images

“Ek kan net liefde vir hulle uitspreek. Hulle het so hard probeer,” het Els ná Sondag se enkelspelsessie volgens AFP gesê. “Hulle het hard vir mekaar en vir die span gespeel, en ek haal my hoed vir elkeen van hulle af.

“Daar is jong, jong spelers hier, spelers wat die wêreld nog nie regtig gesien of van gehoor het nie. Maar julle sal baie van hulle sien in die toekoms.”

Tiger Woods se Amerikaners het die Presidentebeker met 16-14 gewen nadat net twee Internasionale spelers – die groentjies Sungjae Im en Cameron Smith – hul enkelspelwedstryde kon wen en die veterane in die laaste twee wedstryde, Louis Oosthuizen en Marc Leishman, met halfpunte tevrede moes wees.

Dit het van die Yanks die eerste span tot dusver gemaak wat ’n Saterdag-agterstand (in hierdie geval met tien-agt) kon uitwis om die kompetisie te wen.

“Ons het vrek naby gekom daaraan om te wen en een van die beste gholfspanne van alle tye te klop. As jy kyk na (die Internasionale spelers se) rekords en die gholf wat hulle op die oomblik speel . . . Hulle is op pad boontoe. Ons het major-kampioene hier. Ek sien net goeie dinge vir hulle.”

Els het die afgelope twee jaar hard gewerk om ’n Internasionale span wie se vingerafdrukke in 2003 laas op die Presidentebeker was in ’n wenspan te omskep en vir drie dae was dit duidelik dat hy inderdaad ’n wenresep het. Die sleutel tot hul sukses in die vier spansessies, waarvan die Internasionale 12 net een verloor het, was die ander ding waaraan Els hard gewerk het: ’n nuwe kultuur.

Hy het dit reggekry om 12 spelers van nege verskillende nasies saam te snoer in ’n eenheid wat vir mekaar (en, volgens die spelers, vir hom) wou wen, en ’n omgewing geskep waarbinne so te sê elke speler homself uitgeleef het.

Die Amerikaners met die Presidentebeker. Foto: Getty Images

Veral die Mexikaan Abraham Ancer en die Koreane Im en Byeong-hun An het gewys hulle is inderdaad goed genoeg om kort voor lank stem dik te maak op die major-verhoog. Ancer het drie en 'n half punte in die eerste vier sessies gewen voordat hy hom Sondag teen ’n veglustige Woods vasgeloop het en met drie en twee verloor het. Im se sege met vier en drie oor Gary Woodland het beteken dat hy ook drie en 'n half punte tot die spantotaal bygedra het en An het altesaam drie punte ingeoes.

Nie een van hulle is al 30 nie (Im is net 21) en hulle kan dus nog vir baie jare probeer om die Presidentebeker se lot te verander. Die toekoms lyk blink, het Els gesê.

“Absoluut. In die spansessies het ons so goed as ooit gevaar. Ons doel was om teen Saterdagaand tien punte te hê en dit het ons vermag. In die verlede het ons goed gevaar in die enkelspel, so ons was vooraf gemaklik. Ek dink ons kom nader (aan wen).

“Ons moet net aanhou verbeter. Jy weet, ons span het nie soveel diepte as die Amerikaanse span nie. Die Amerikaners het wonderlike kampioene, major-kampioene. Maar ons het iets om op te bou.”

Meer oor:  Presidentebeker  |  Tiger Woods  |  Ernie Els  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.