Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Trane kan weg baan na triomf vir SA jonges

Die een het ’n voorsprong van drie houe gehad halfpad deur sy Sondag-ronde by die Randpark-gholfklub. Die ander een het sy naam ná 63 putjies by Leopard Creek boaan die voorlopersbord gesien.

Jayden Schaper Sondag by Leopard Creek, waar hy tweede geëindig het in net die vyfde Europese toernooi van sy loopbaan. Foto: Getty Images

Maar uiteindelik moes albei voor ’n televisiekamera gaan staan en praatjies maak, sonder om die pyn van tweede eindig voor ’n wêreldwye gehoor oor hulle te laat spoel.

Moet egter vir geen oomblik dink Wilco Nienaber en Jayden Schaper se teleurstellings in onderskeidelik die Joburg Ope en Alfred Dunhill-kampioenskap sal hulle breek nie, sê Theo Bezuidenhout, sportsielkundige.

“Soms moet jy in die verleentheid gestel word sodat jy kan leer hoe om te wen,” sê Bezuidenhout, wat as sielkundige van die nasionale amateurspan vir Nienaber en Schaper baie goed leer ken het.

Wat nou vir daardie twee belangrik is, is om te onthou dat hulle vir drie en ’n halwe rondes goed genoeg was om voor te loop in die Europese reeks.

“So ’n ervaring, om voor te loop en dan tweede te eindig, is nie lekker nie, maar dit kan ook belangrik wees. Albei daardie spelers is beter daaraan toe omdat dit met hulle gebeur het, want hulle het daaruit geleer.”

Wilco Nienaber het die afgelope twee weke tweede by Randpark en twaalfde by Leopard Creek geëindig. Foto: Getty Images

Nienaber (20) het voorverlede Sondag in die laaste ronde van die Joburg Ope kortstondig ’n voorsprong van drie houe gehad en was skynbaar onstuitbaar op pad na sy eerste Europese sege voor die senuwees en adrenalien hom oor die laaste twee putjies oorweldig het.

Ná brouhoue by die Firethorne-baan se laaste twee putjies het hy twee houe agter Joachim B. Hansen geëindig.

Die afgelope naweek by Leopard Creek het Schaper (19) die voortou halfpad deur die laaste ronde geneem omdat hy koelkop gebly het terwyl die spelers om hom kop verloor het.

Maar ’n driedubbele brouhou by die tiende het sy aanslag op sy kop gekeer en hy het eindelik vier houe agter sy landgenoot Christiaan Bezuidenhout geëindig.

Jy kan al die houe in die boek, die beste span om jou en die beste stokke in jou sak hê, maar as jy nie bereid is om te leer nie, gaan dit jou nie help nie.

“Wat nou vir daardie twee belangrik is, is om te onthou dat hulle vir drie en ’n halwe rondes goed genoeg was om voor te loop in die Europese reeks. ’n Mens kan maklik tob oor die twee of vier putjies wat jou gekos het, maar dit moenie die belangrikste ding wees nie,” sê Bezuidenhout.

“Ek gaan altyd terug na die voorbeeld van Adam Scott, wat die Amerikaanse Meesterstoernooi in 2013 gewen het, net ’n paar maande ná hy die Britse Ope van 2012 by Royal Birkdale met vier brouhoue afgesluit het om ’n hou agter Ernie Els te eindig. Hy het daarop gefokus dat hy vir 68 putjies goed genoeg was om ’n major te wen, nie op die laaste vier putjies nie.

“Ek kan jou belowe, Grant (Veenstra, Schaper se afrigter) sal hom dié week geen ruimte vir selfbejammering gee nie. En Wilco het net so ’n goeie span agter hom, om hom te herinner waartoe hy in staat is.”

Christiaan Bezuidenhout moes omtrent sy spiere bult om Leopard Creek se swaar luiperdtrofee so hoog te lig, nadat hy vir die tweede keer in die Europese reeks gewen het. Foto: Getty Images

Waar Nienaber en Schaper hul lesse aan die bopunt van die telbord gevind het, kon hul tydgenoot Garrick Higgo self die afgelope twee weke ’n paar lesse leer aan die onderpunt daarvan.

Higgo (21) het in September deurgebreek in die Europese reeks deur die Portugese Ope te wen en het met groot verwagtinge huis toe gekom. By Randpark het hy egter 61ste geëindig nadat hy met sy kortspel gesukkel het en by Leopard Creek het hy die afsnypunt gemis.

Ook hy, sê Bezuidenhout, sou nie die laaste twee weke sielkundige letsels gekry het nie.

“Ek wil nie die commentators curse op dié drie spelers plaas nie, maar daar is by my geen twyfel nie dat hulle goed genoeg is om nog baie toernooi te wen.

“Wat hulle so goed maak is hul vermoë om vinnig te leer. Jy kan al die houe in die boek, die beste span om jou en die beste stokke in jou sak hê, maar as jy nie bereid is om te leer nie, gaan dit jou nie help nie,” sê hy.

As jy slegte dinge weg van die baan kan hanteer, kan jy dit ook op die baan hanteer.

“Almal van hulle is ook gelukkig genoeg om families te hê wat geen druk op hulle plaas nie en mense om hulle wat sal keer dat hulle in vryval beland.

“Hulle het ook nie nou tyd om te broei oor wat skeefgeloop het nie, want hulle speel weer die week (in die Suid-Afrikaanse Ope).”

Bezuidenhout sê die Dunhill-kampioen, Christiaan Bezuidenhout (26), is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat deur teenspoed gebrei is.

Hy het rotgif ingekry toe hy maar twee jaar oud was en hakkel as gevolg daarvan. Hy is as 20-jarige vir nege maande geskors omdat hy beta-blokkers gebruik het vir ’n angsversteuring wat deur sy gehakkel veroorsaak is, maar het sterker daaruit gekom.

Nou is hy ’n tweemalige Europese wenner.

“Daar is geen onderskeid tussen hardekwas wees in die lewe en op die baan nie. As jy slegte dinge weg van die baan kan hanteer, kan jy dit ook op die baan hanteer,” sê Bezuidenhout oor sy jonger naamgenoot.

“Die veerkragtigheid wat Christiaan nodig gehad het om deur sy slegte tye te kom, is nou deel van sy sielkundige fondasie.”

Meer oor:  Jayden Schaper  |  Gholf  |  Wilco Nienaber  |  Garrick Higgo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.