Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Trevor trots om Els se platform in te span
Trevor Immelman op die Sondag van verlede jaar se Presidentebeker-toernooi, toe die Amerikaners agt van die 12 enkelspelwedstryde gewen het om die internasionale span se hart te breek.Foto: Getty Images

Geen Suid-Afrikaanse gholfspeler kan kraai dat hy in beroepsgholf al iets vermag het wat Gary Player of Ernie Els nie kon nie – maar presies dít is die geelwortel wat vir die volgende 20 maande voor Trevor Immelman se neus gaan hang.

Immelman, die Amerikaanse Meesterskampioen van 2008, sal aanstaande jaar in dié twee reuse van wêreldgholf se voetspore volg as die sewende Presidentebeker-kaptein van die internasionale span.

Aangevuur deur die amper-sege verlede Desember oor Woods se span (wat met ’n skrale 16-14 baas was), droom hy nou van ’n Presidentebeker-oorwinning wat nie vir Player of Els beskore was nie.

Die legendariese Suid-Afrikaanse gholfspeler Gary Player. Foto: Getty Images

Player was kaptein van die span wat in 2003 ’n gelykop uitslag behaal het, nadat Els en Woods mekaar tot in sterk skemer by Fancourt opdraande gegee het. Els was natuurlik ook die kaptein van die groep wat verlede jaar so naby aan die kruin gekom het.

“Dis ’n ongelooflike eer (om as kaptein aangewys te word),” het Immelman Dinsdag volgens Sport24 gesê. “Enige Suid-Afrikaner weet goed wie Ernie Els of Gary Player is, so dis vir my baie spesiaal om in hul voetspore te volg. Hulle is albei mentors en vriende van my, mense op wie ek my lewe lank staatmaak vir advies en leiding.”

Immelman was verlede jaar in Melbourne een van Els se onderkapteins en baie betrokke by die Big Easy se amperse wenplan.

Die internasionale 12-tal het hul 11de nederlaag in 13 toernooie gely, maar Immelman sê daar is steeds ’n grondslag deur Els gelê wat vir hom van onskatbare waarde gaan wees.

“Een van die maniere waarop Ernie regtig nuwe lewe in die span geblaas het, was deur ’n platform te skep waarop ons as ’n span kan verbeter.

Ernie het ’n spesifieke plan gehad vir hoe ons kan vorentoe beweeg en het die wiele daarvoor aan die rol gekry ’n jaar en ’n half voor Melbourne.
Trevor Immelman

"Ons het oor die jare gesukkel en is ’n paar keer pimpel en pers geslaan, maar Ernie het ’n spesifieke plan gehad vir hoe ons kan vorentoe beweeg en het die wiele daarvoor aan die rol gekry ’n jaar en ’n half voor Melbourne,” sê Immelman.

“Ons hart is gebreek nadat ons so naelskraaps verloor het, maar ons het goed gevoel oor baie van die dinge wat ons in die aanloop tot Melbourne gedoen het. Ons het inderdaad ’n tree vorentoe geneem en vir my is dit wonderlik dat ek ’n aandeel daaraan gehad het.”

Immelman, wat die internasionale span in 2005 en 2007 verteenwoordig het, se aanwysing as kaptein is deur verskeie van die spelers verwelkom wat verlede jaar in Melbourne was.

Die Australiese gholfspeler Adam Scott. Foto: Getty Images

“Trevor sal baie insig en waarde toevoeg tot die span se voorbereiding, danksy al sy ervaring as ’n speler, ’n onderkaptein en ’n uitsaaier,” het die Aussie Adam Scott volgens die webtuiste van die Australiese PGA gesê.

“Hy het ’n baie groot rol gespeel in ons groot stryd verlede jaar en ek is seker hy sal ’n fantastiese leier wees wanneer ons volgende jaar by Quail Hollow speel.”

Immelman het ook ’n goeie indruk gelaat by nog ’n Aussie, Cameron Smith.

“Ons as span het regtig nader aan mekaar gekom onder Ernie se kapteinskap en ek dink Trevor sal dieselfde impak op die span hê,” sê Smith.

“Ek hou ook daarvan dat daar kontinuïteit sal wees, want hy was ’n belangrike lid van Ernie se span agter die skerms. Wanneer Trevor iets te sê gehad het in die spankamer, het ons almal met aandag geluister omdat hy soveel kennis en insig het.”

Meer oor:  Adam Scott  |  Ernie Els  |  Vsa  |  Suid-Afrika  |  Kaptein  |  Gholf  |  Presidentebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.