Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Twee brouhoue kos Wilco Joburg-titel
Nienaber kyk sy bal agterna nadat hy van net-net buite die water op die 17de setperk moes kom. Hy het daar vir die eerste keer Sondag die voortou verloor. Foto: Getty Images

Die belangrikste afstand in gholf, sê díe sport se wyse manne graag, is die paar duim tussen ’n speler se twee ore.

Die 20-jarige Wilco Nienaber is nie te jonk om dié ou gholfgesegde te ken nie. Maar hy sal vir lank rondloop met vrae oor waarom die gholfgode hom daaraan moes herinner net toe hy op die drumpel van sy grootste oomblik tot nog toe gestaan het.

Nienaber moes Sondag met die tweede plek in die Joburg Ope tevrede wees. Brouhoue op albei die laaste putjies van die Randpark-gholfklub se Firethorne-baan het hom tot twee houe agter die Deen Joachim B. Hansen laat tuimel.

Brouhoue op albei die laaste putjies van die Randpark-gholfklub se Firethorne-baan het hom tot twee houe agter die Deen Joachim B. Hansen laat tuimel.

Hansen het die toernooi op 265 (19-onder) voltooi nadat hy vier voëltjies in ’n foutlose Sondag-rondte van 67 (-4) aangeteken het. Dit was juis sy vermoë om uit die moeilikheid te bly wat op die dag sy waardevolste wapen was, terwyl hy ’n agterstand wat in ’n stadium tot drie houe gerek het, stelselmatig weggebeitel het.

Soos almal anders was Hansen in die oë van die meeste toeskouers ’n blote byspeler in nog ’n aflewering van die Wilco Nienaber-lokettreffer.

Nienaber het reeds Donderdag wêreldwyd die tonge laat klap met sy vermoë om die bal van die bof af verby die 400 tree-merk te slaan, en het Saterdag as die 54 putjie-voorloper gaan slaap omdat hy dít met skitterende setwerk en komkommerkoel-gholf onder druk kon kombineer.

Aanvanklik het hy Sondag ook daardie resep gevolg. Soos in die vorige drie rondes het hy die wit waks van die bal geslaan, en soos in die vorige drie rondes nie geskrik vir die moeilikheidsgraad van enige sethou nie.

Toe hy sy voorsprong ondanks ’n lastige reënbui by die vyfde putjie tot drie houe rek deur ’n 20-voeter vir voëltjie te sink, het ’n mens begin wonder hoe groot sy sege sou wees. Min sou enige toeskouer kon raai hy sou daarna nog net een voëltjie aanteken, by die sesde putjie, en sy akkuraatheid stelselmatig sien afneem.

Terwyl Nienaber van die sewende putjie af die syfers ingeryg het, het Hansen die petrolpedaal ingetrap. Hy het vir die duur van die rondte ys in sy are op die setperke en in die sandkuile gehad, en is daarvoor beloon met vier voëltjies tussen die negende en veertiende putjie.

Die laaste van daardie voëltjies – by ’n syfer 5-uitleg waarvan Nienaber met ’n suur trek om sy mond weggestap het omdat hy net syfer kon maak – het Hansen en die jong Bloemfonteiner op 19-onder gelyk laat trek, en die druk was skielik swaar op die plaaslike gunsteling se skouers.

Van daar af het Nienaber meer teen homself meegeding as teen Hansen en het al meer krake begin wys.

Die bodem het uiteindelik uitgeval by die syfer-3 sewentiende, waar hy die bal oor die setperk en so byna in die water geslaan het. Dit was ook nie só ’n groot gelukskoot dat die bal droog gebly het nie, met Nienaber wat mooi moes balanseer om die bal bult op na die setperk te slaan sonder om in die water te beland.

Joachim B. Hansen se foutlose ronde het hom van die Joburg Ope-titel verseker. Foto: Getty Images

Twee sethoue het hom daarna tot ’n hou agter Hansen gedruk, en die aggressiewe benadering wat toe nodig was om sake weer by die agttiende gelyk te maak, het hom duur te staan gekom. Hy het in sand langs die skoonveld beland en kon nie van daar die setperk haal nie. Nog ’n brouhou het gevolg – en daarmee saam die grootste teleurstelling van sy jong loopbaan.

Nienaber se laaste rondte van 70 (-1) was sy swakste van die week, maar ook een vol lesse vir die jongeling. Al kon hy nie die knoop deurhak nie, is daar geen twyfel oor die knaap se vermoë om gholf te speel en nog ’n grote in die sport te word nie.

Dit is prysenswaardig dat sy enige swakpunt hierdie week sy senuwees in die pylvak was – heeltemal verstaanbaar vir iemand wat nog vyf maande weg van 21 is.

Hansen is vir sy onverstoorbaarheid beloon met die eerste Europese titel van sy loopbaan, en het met trane in sy oë van die agttiende setperk weggestap.

Dis nogal emosioneel. Dít is waarvoor ons werk, né?
Joachim B. Hansen

“Dis nogal emosioneel. Dít is waarvoor ons werk, né?” het hy volgens die Europese reeks se webtuiste gesê.

Shaun Norris het ’n hou agter Nienaber in die derde plek geëindig ná ’n 66. Brandon Stone het 69 houe gespeel vir ’n aandeel aan die vierde plek.

Meer oor:  Wilco Nienaber  |  Joachim B. Hansen  |  Denemarke  |  Suid-Afrika  |  Sonskynreeks  |  Gholf  |  Brouhoue  |  Europese Reeks  |  Joburg Ope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.