Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Gholf se meester oor sy Meesters-triomf: ‘My kinders sien nou hoe hul Pops wen, nes my Pops my sien
Tiger uit woud van wroeging en weemoed

Hy was soos Hercules – ’n legende in sy eie leeftyd. Soos Achilles – gevrees, maar self vreesloos. Soos Zeus – in beheer van sy eie lot en dié van dosyne mense rondom hom.

Maar toe word Tiger Woods ’n Icarus – die man wat vlerke gebou het om nader aan die gode te kom, maar na benede geval het omdat hy te naby aan die son gevlieg het.

Tiger Woods
’n Droom bewaarheid... Tiger Woods brul van vreugde nadat hy sy eerste major in 11 jaar (en eerste Meesterstitel in 14) verlede Sondag gewen het. Foto: Getty images

Daar was ’n onnodige gepeuter aan ’n swaai wat die een major-titel ná die ander opgelewer het. Daar was ’n smerige persoonlike lewe wat Hooters-kelnerinne en ontkleedanseresse ingesluit het. Woods het groter as die spel geword.

Was hy inderdaad die held in ’n Griekse mite sou ’n mens kon sê die gode het hulle so vererg dat hulle van hom ’n Odusseus gemaak het: ’n Man bestem om vir ’n dekade deur storms, monsters en versoekings sy pad terug “huis” toe te probeer vind.

“Huis” vir Tiger Woods die gholfheld, was die major-wenkamp. Die plek wat hy verlede Sondag by Augusta vir die eerste keer in 11 jaar betree het.

Soos Odusseus se vrou, Penelope, en die inwoners van sy koninkryk, Ithaca, in Homer se epiese verhaal ophou glo het hulle sal hóm weer sien, so het die wêreld gemeen Woods se dae as major-veroweraar is verby. Albei aannames was verkeerd.

In die sewe dae sedert Woods se sensasionele Sondag by Augusta is dit wyd en syd bestempel as die grootste terugvegpoging wat die sportwêreld tot nog toe gesien het.

Sy terugkeer na die kruin het binne dae die mitiese vorm van ’n sedeles aangeneem. In die moderne wêreld van inspirasie-rympies word ons gereeld herinner dat die belangrikste nie is hoeveel keer jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan. Woods – ’n man wat op sy Odusseus-reis telkens afgeneem is waar hy ’n gholfstok as kierie gebruik, wat letterlik aan sy bed vasgekluister was deur verlammende rugpyn en wat figuurlik teen die grond was weens verslawing aan pille – verpersoonlik dit.

Op die Dinsdagaand voor die Amerikaanse Meesterstoernooi van 2017 het Woods aan ’n tafelgenoot gesê sy loopbaan is verby. Twee weke later het hy vir die vierde keer aan sy rug laat sny – vir ’n spinale fusie, sy laaste rol van die dobbelsteen.

Woods se seun Charlie: Sy grootste wens het Sondag waar geword toe hy sy pa kon sien wen.
Woods se seun Charlie: Sy grootste wens het Sondag waar geword toe hy sy pa kon sien wen.
Laagtepunt?.?.?. Tiger Woods kort ná sy arrestasie
Laagtepunt?.?.?. Tiger Woods kort ná sy arrestasie vir dronkbestuur in Palm Beach twee jaar gelede.

Toe hy ’n maand later aan die kant van ’n pad slapend in sy Mercedes-Benz gevind word, en in hegtenis geneem word vir dronkbestuur, het die wêreld nie ’n stout gholfspeler gesien op die polisiefoto’s wat die wêreld ingestuur is nie.

Hulle het ’n man gesien met diep persoonlike wroegings.

Terwyl hy ’n boete van $250 betaal het, 20 ure se gemeenskapsdiens gedoen het en hulp vir sy verslawing gevind het, was daar niemand oor wat gewonder het of Woods ooit weer ’n gholf-trofee sou lig nie. Daar was eerder simpatieke tongklikke, ’n menigte Twitter-grappies en kolomme vol kopie oor die diepte van die dal waarin hy hom bevind.

Dat dit alles minder as 24 maande terug gebeur het, voel nou onwerklik. Die wêreld was teen daardie tyd gewoond aan ’n realiteit waarin Tiger Woods nie in die majors gespeel het nie, net by tennistoernooie of glansgeleenthede afgeneem is, eerder trofeë oorhandig as gewen het en niks meer was nie as ’n simbool van gholf se gister. En dít sonder dat enigiemand buite sy binnekring die ware omvang van sy probleme besef het.

Jan Alleman het ophou glo in Woods se gholfvernuf – en, het hy verlede Sondag erken, hyself ook.

“Ek het ernstige twyfel gehad (dat hy weer op die gholfbaan kon seëvier) ná wat ’n paar jaar gelede gebeur het,” het hy aan die wêreldmedia gesê. “Ek kon skaars loop. Ek kon nie sit nie, kon nie lê nie . . . kon nie veel van enigiets doen nie.”

Tiger Woods
Tiger Woods brul van vreugde nadat hy sy eerste major in 11 jaar (en eerste Meesterstitel in 14) verlede Sondag gewen het. Foto: Getty images

Vroeër die week, by die Golf Writers Association of America se toekenningsaand, het hy daarop uitgebrei: “Gholf was nie in my nabye of verre toekoms nie. Ek kon nie eens in die agterplaas saam met sy seun set nie. Ek was kláár.”

As Woods laat in 2017 besluit het om dit alles die rug toe te keer – om die sonsondergang in te ry met sy miljarde in die bank, sy rug weer hanteerbaar en sy persoonlike lewe op vaste grond – sou amper niemand gevra het hoekom nie. Wel, niemand behalwe Woods self nie.

’n Ander hoekom het immers swaarder geweeg: Hoekom hy wou aanhou en weer wou wen. Omdat sy kinders, Sam (11) en Charlie (10), nie geweet het hoe dit voel om hul pa in lewende lywe ’n major te sien wen nie. Die 14 waaroor hy kon kraai, kon hulle net ervaar in nostalgiese video’s en sy eie herinneringe. Sam was daar met die laaste van die 14, in Junie 2008 – maar sy was ’n bolwang-baba sonder ’n idee van wat aangaan.

Dit was vir hulle (wel, vir homself ook, natuurlik, en sy erfenis, maar véral vir Sam en Charlie) dat Woods weer begin werk het vir sy plek in die son. Dat dit meer as ’n veraf droom was, was duidelik toe hy in die Valspar-kampioenskap van Maart 2018 net ’n hou agter die wenner, Paul Casey, eindig. Toe volg ’n vyfde plek by die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi, ’n vierde plek by die Quicken Loans National en ’n sesde plek by die Britse Ope.

Sy kinders was daardie week in die skare by Carnoustie, angstig toe hul pa in ’n stadium die voortou neem, maar dit weer laat glip. Die droom moes wag, maar het tasbaar gevoel. En toe hy drie weke daarna tweede in die PGA-kampioenskap eindig, was die twyfel uit sy eie gemoed: Die major-wenkamp sou hom weer sien.

Verlede Sondag het dit gebeur. Die Woods-kinders kon uiteindelik die weergalmende gejil wat ’n Woods-major ontketen, voel tril teen hul oordromme en die saamdrom van mense teen hul eie lywe voel.

Hy hoop hulle is trots op hom, het Woods daarna op sy nuuskonferensie aan die wêreldmedia gesê.

“Hul liefde en ondersteuning, ek kan nie genoeg sê hoeveel dit deur my sukkeljare beteken het nie. Net die aansteeklikheid van hul geluk. Ek het fisiek deur ’n moeilike tyd gegaan, maar hulle was daar. En nou sien hulle hul Pops wen, soos my Pops my (by Augusta) sien wen het. Dis spe­siaal.

“Ek is opgewonde oor ‘show and tell’-dag by die skool.”

Sy kinders kan sekerlik ook nie wag nie.

Klein Charlie is aan die begin van die jaar gevra om neer te skryf wat hy hoop om in 2019 te vermag. Volgens The Washington Post het hy ’n eenvoudige wens neergeskryf: Hy wou sy pa sien wen.

Wat hy gesien het, was uiteindelik nie net ’n wen nie. Sy pa is nie net huis toe met sommer so ’n gholftrofee nie. Hy mag weer rondwandel in een van gholf se mees magiese besittings: ’n Augusta-groen baadjie.

twaalfde putjie
Twaalfde putjie 'n waterskeiding.

Meer oor:  Tiger Woods
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.