Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Vader Tyd vuur Rory aan in Sjanghai

Rory McIlroy het sy sege Sondag in die WGC-gholftoernooi in Sjanghai in China en sy onlangse goeie spelpeil toegeskryf aan die besef dat die horlosie op 30 vir hom al hoe vinniger begin loop

McIlroy, nommer twee op die wêreldranglys, het die verdedigende kampioen, Xander Schauffele van Amerika, op die eerste uitspeelputjie geklop.

Rory McIlroy glimlag Sondag breed ná sy sukses in Sjanghai. Foto: Getty Images

Albei was 19 houe minder as baansyfer. Suid-Afrika se Louis Oosthuizen het op 17-onder in die derde plek geëindig.

Oosthuizen het vroeg in Sondag se finale ronde die voortou geneem, maar brouhoue weerskante van die draaipunt het hom laat terugsak. Hoe hard hy ook al probeer het, kon hy net nie weer inhaal nie.

Dit was McIlroy se eerste sege in hierdie spogtoernooi in Asië en hy het nou weer die eerste plek op die ranglys, wat hy laas in 2015 gehad het, in sy visier.

Hy het rondtes van 67-67-67 en 68 gespeel en erken sy vlam is weer aangesteek deur die besef dat hy “op 30 nie meer so baie tyd oor het soos op 20 nie”.

“Selfs as ek ’n slegte dag beleef, konsentreer ek op elke hou. My ingesteldheid op die baan is beter as wat dit ooit was,” sê hy.

Op die 18de bof was McIlroy een hou voor Schauffele, maar hy het sy bofhou in die ruveld naby die meer geslaan op die syfer-5.

Hy kon slegs ’n syfer aanteken, terwyl Schauffele ’n voëltjie behaal het.

In die uitspeelstryd het hulle weer die 18de gespeel, maar McIlroy het vergoed met ’n puik bofhou en sy tweede op die setperk geslaan. Hy het ’n voëltjie behaal, terwyl Schauffele, dié keer net syfer kon speel.

McIlroy het nie ’n enkele hou aan syfer afgestaan oor die laaste 38 putjies nie.

“Ek is opgewonde oor die toekoms en meen vanjaar (waarin hy vier toernooie gewen het) vergelyk goed met 2014 en 2015 en ek kan nie sien hoekom ek nie aanstaande jaar nog beter kan speel nie,” sê hy.

Schauffele het egter moedig geveg en veral omdat hy die hele toernooi las van griep gehad het en nie goed gevoel het nie.

Meer oor:  Wgc-Gholftoernooi  |  Sjanghai  |  Rory Mcilroy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.