Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Van trane in parkeerarea tot Ope-triomf
Soos ’n kat wat room gekry het. Shane Lowry lyk bitter ingenome met Claret Jug langs hom op die lessenaar op ’n nuuskonferensie ná sy oorwinning in die Britse Ope Sondag. Foto: Getty Images

Shane Lowry het sy Britse Ope-triomf Sondag as onwerklik beskryf en vir eens is dit nie ’n cliché om sy oorwinning as “ongelooflik” te beskryf nie.

Soos sy naaste teenstander by Royal Portrush in Noord-Ierland, die Engelsman Tommy Fleetwood, dit gestel het, het Lowry “totale beheer” oor die laaste ronde gehad – desondanks al die druk, die wilde weer en sy eie geskiedenis.

Drie jaar gelede het dié Ier ’n voorsprong van vier houe in die laaste ronde van die Amerikaanse Ope by Oakmont deur sy vingers laat glip. Maar as herinneringe van daardie slegte dag nog by hom gespook het, het hy dit Sondag meesterlik weggesteek.

Lowry (-15) se laasteronde-telling van 72 het hom tot ’n klinkende sege van ses houe oor Fleetwood gevoer.

Een vir die gesinsalbum. Shane Lowry vier sy Britse Ope-triomf saam met sy vrou, Wendy, en dogtertjie, Iris. Foto: Getty Images

“Ek moes vandag tot die bitter einde veg en dís wat ek hier gedoen, maar by Oakmont mee gesukkel het,” het die 32-jarige Lowry ná sy oorwinning gesê.

“Ek het altyd gesê ek sou enigiets doen om weer daardie laaste klomp putjies by Oakmont te kon oorspeel. Om weer op die skoonveld van die 14de putjie te staan. So vandag het ek geweet ek sal tot die heel einde moet bly veg, en ek het,” het hy gesê.

In die meer onlangse verlede het Lowry ook ander nare ervarings op die gholfbaan gehad. In verlede jaar se Britse Ope het hy ’n teleurstellende 74 in die eerste ronde aangeteken en sy joggie daar en dan die trekpas gegee. Hy het die volgende dag ’n 73 geskiet en sodoende die afsnypunt misgeloop.

“Ek het ’n jaar gelede op die Donderdag in die parkeerarea by Carnoustie in my kar gesit en huil. Gholf was nie toe my vriend nie. Dit was iets wat stresvol en ’n juk op my skouers was. Ek het nie toe daarvan gehou nie. En kyk nou watter verskil kan ’n jaar maak,” het hy gesê.

“Dis hoe wispelturig gholf is. Dis ’n vreemde sport en jy weet nooit wat om die draai vir jou wag nie. Jy moet jouself gereeld hieraan herinner en ander mense moet dit ook vir jou doen. Jy moet bly veg in die slegte tye.”

Dié bonkige, bebaarde Ier is duidelik met baie gholftalent geseën en sy innemende persoonlikheid het van hom ’n kitsheld onder toeskouers by Royal Portrush gemaak.

Shane Lowry sê Padraig Harrington (regs) se sukses het vir hom as ’n inspirasie gedien. Foto: Getty Images

Tog vermoed ’n mens hy het nie soveel vertroue in sy eie vermoëns as van sy eweknieë in beroepsgholf nie.

“Selfs toe ek vanoggend op die baan gestap het, het ek nie geweet of ek goed genoeg is om ’n major te wen nie. Ek het geweet ek sou ’n paar goeie dae se spel kon opdis. Ek het ook geweet dat ek goed kan vaar op hierdie baan. En kyk, hier’s ek nou – ’n major-kampioen. Ek kan eerlikwaar nie glo ek uiter nou hierdie woorde nie.”

Volgens Lowry was sy landgenoot Padraig Harrington nog altyd ’n groot inspirasie vir hom.

“Ek is ’n Ier. As kind het ek sethoue in my agterplaas ingerol om die Ope te wen. Ek het gekyk hoe Paddy sy twee Ope-titels wen. Om hom op die 18de putjie te hê was ongelooflik. Dit was altyd so vreemd om by sy huis in te gaan en daar staan die Claret Jug op sy kombuistafel. Nou gaan ek ook een op my kombuistafel hê.” 

– Reuters

Meer oor:  Gholf  |  Britse Ope  |  Shane Lowry
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.