Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Varner betreur min swart spelers in PGA

Harold Varner III wil ’n nuwe generasie Afro-Amerikaners inspireer om vir ’n plek in die PGA-reeks te streef.

Harold Varner hoop om meer Afro-Amerikaanse kinders te inspireer om gholf te speel. Foto: Getty Images

Meer as twee dekades nadat Tiger Woods die sport soos ’n bom getref het, sien ’n mens nie regtig ’n instroming van swart spelers nie.

Woods het die verbeelding van gholfaanhangers aangegryp, maar dit was nie genoeg om ’n nuwe generasie Afro-Amerikaners aan te moedig om in sy spore te volg nie.

Beroepsgholf op die hoogste vlak is steeds ’n oorwegend wit sport.

“Ek dink dit gaan oor toeganklikheid,” sê Varner.

Die Amerikaner, wat Woensdag sy 28ste verjaarsdag vier, sê hy het ’n plek op die PGA-reeks gekry omdat hy as ’n jong speler ’n bekostigbare opsie gevind het om sy vaardighede te verfyn.

Sy pa het hom aan die sport bekend gestel en hy het elke somer by sy plaaslike Gastonia- munisipale baan buite Charlotte gespeel.

“Dit het jou $100 gekos om van 1 Junie tot 1 September, Maandag tot Vrydag te speel,” sê Varner.

“Dit is goedkoper as die YMCA. Ek glo nie baie bane is deesdae gewillig om die risiko te neem nie. Dit is hartseer, man.

“As dit broekskeur gaan en jy sukkel om te oorleef, wanneer gaan jy geld oorhê om gholf te speel?”

Varner wil sy kant bring om die stand van sake te verander en sy opgang as ’n speler van gehalte is ’n tree in die regte rigting.

“My rol is om hulle te inspireer, dit is wat ek hoor, hou net aan doen wat jy doen, jy inspireer kinders,” sê hy.

“My werk is om kinders, al is dit net een kind, dieselfde geleentheid te gee wat ek gekry het. Dit is so maklik om by die verkeerde pad af te stap en dit is baie makliker om net niks te doen nie.”

Hoewel hy nie juis sterstatus in sy eerste twee jaar op die PGA-reeks bereik het nie, maak Varner deurlopend goeie vordering.

Hy wag nog vir sy eerste oorwinning, maar het onlangs die voortou gedeel voor die laaste ronde van die Greenbrier Classic-toernooi en uiteindelik gesamentlik vyfde geëindig.

Hy het dit opgevolg met ’n sesde plek by die John Deere Classic en ’n gesamentlike 17de plek by die Kanadese Ope.

Sy goeie spelpeil volg op die hakke van ’n oefenronde saam met Woods by die Spelerstoernooi in Mei waar hy die geleentheid gehad het om by die 14-malige major-wenner te leer.

“Ek wou weet hoe hy gefokus bly met so baie mense in die omtrek,” sê Varner.

“Hy het gesê: ‘Jy kan daardie mense hoor, maar jy fokus nou op wat ek sê. Dis soos om ’n boek te lees terwyl die TV aangeskakel is. Jy kan die TV se geraas hoor, maar jy fokus op jou boek.’

Tiger Woods het Varner raad gegee hoe om sy fokus te behou wanneer jy deur toeskouers omring word. Foto: Getty Images

Woods het hom voor die laaste ronde by Greenbrier sterkte toegewens.

“Hy het die aand voor die tyd vir my ’n boodskap gestuur en gesê ‘kom ons gaan wen hierdie ding’.

“Ek het toe nie gewen nie en hom vir meer raad gevra. Ek het gevra wat hy doen wanneer hy op sy senuwees is en onder druk verkeer. ‘Ek verander . . . niks,’ het hy geantwoord.”

– Reuters

Meer oor:  Tiger Woods  |  Gholf  |  Pga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.