Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Vergeet die gholfrobot, Tiger is mens

Oor Tiger Woods se persoonlike lewe was die wêreld nog altyd grootbek. Hoekom is daar dan dié week meer fokus op sy gholfloopbaan as sy gesondheid, vra Marizanne Kok.

Tiger Woods en sy seuntjie, Charlie, verlede jaar op die gholfbaan.

Dit het reeds Dinsdagaand begin: die derms-uitrygery oor hoe die motorongeluk waarin Tiger Woods net enkele ure tevore was, sy kans om ooit weer gholf te speel sal beïnvloed.

Daar was (en is steeds) geen duidelikheid oor die volle omvang van sy beserings nie – ons wonder steeds of daar benewens sy vergruisde enkel en gebreekte been skade is aan, sê maar, sy knaend brose rug. En tog word ons oorval met sogenaamde kennersopinies oor wanneer hy terug op die gholfbaan kan wees, sonder om te weet hoe gou (en óf) hy net weer normaal sal kan loop.

Twee maande gelede het mense geoe-en-aa oor die beelde van Woods en sy seuntjie, Charlie, in ’n PGA-toernooi in Florida. Die kollig was fel op die 11-jarige, en niemand was vreeslik gepla met wat Woods sr. aanvang nie.

Nou word ons egter onderwerp aan die aanhalings van spelers wat hulle “nie gholf kan indink sonder Tiger Woods” nie. Ons moet hoor Woods is beslis sterk en mededingend genoeg om soos Ben Hogan te maak en ná ’n ernstige motorongeluk meer majors te wen. Ons word herinner dat dié ou nooit afgeskryf kan word nie.

Maar van ure lange besprekings oor hoe sy ongeluk Woods die mens en gesinsman gaan affekteer, is daar nie sprake nie.

Gelukkig het gholf vir Rory McIlroy, wie se kommer oor Woods uitsluitlik spruit uit hul jarelange vriendskap.

Die Noord-Ier was sigbaar geïrriteerd toe hy Donderdag gevra is of hy dink Woods sal ooit weer gholf speel.

Die wrak van die motor waarin Woods van die pad is. Foto: Reuters

“Hy’s nie Superman nie,” het McIlroy teruggekap. “Hy’s ’n mens. En hy is reeds deur so baie. Ek dink almal moet in hierdie stadium net dankbaar wees dat hy leef, dat sy kinders nie hul pa verloor het nie. Dis die belangrikste ding. Gholf is nie nou die kruks van die saak nie.”

Hoor-hoor, Rory! Inderdaad.

Daar is soveel meer aan Woods as net die robot-agtige figuur op die gholfbaan. En sy lewensverhaal is bekend genoeg dat niemand ’n verskoning het om hom as mens mis te kyk nie.

Dink enigiemand wat die interaksie tussen Woods en sy kinders die laaste paar jaar gesien het werklik hy verknies hom meer oor of hy weer professionele gholf kan speel, as oor of hy weer saam met Charlie op ’n bof kan gaan staan, of langs ’n sokkerveld kan loop terwyl Sam daarop rondhardloop? Sal hy hom regtig nou verknies oor die drie majors wat hy kort om Jack Nicklaus te vang, terwyl sy lewe net dae tevore in ’n tollende kar voor sy oë geflits het?

Die gholfrobot waaraan Earl Woods vir soveel jare gebou het, het nou plek gemaak vir ’n man wat sy kinders bo alles stel, en vriende gemaak het met dieselfde ouens wat hy jare terug op die baan wou vermorsel. Hy laat die wêreld deesdae toe om te sien hy is ook net vlees en bloed.

Ons kan dit minstens herken deur meer bekommerd te wees oor die man, as oor die robot.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Besering  |  Motorongeluk  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.