Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
‘Vergete’ Spieth wil weer kruin bestyg

Dis nou al ’n paar jaar sedert Jordan Spieth saam met Rory McIlroy en Jason Day as gholf se “groot drie” gesalf is.

Dié drietal was almal in hul twintigs en het die gholfwêreld aan hul voete gehad ná vroeë major-sukses.

Jordan Spieth sê ná ’n sukkeljaar in 2018 hy weet hoe om weer sy beste spelpeil te herwin. Hier is hy in die eerste ronde van die Sony Ope in Hawaii in aksie. Foto: USA Today Sports

Aan die einde van 2015 was Spieth, Day en McIlroy onderskeidelik die wêreld se nr. 1-, 2- en 3-spelers en is daar voorspel dat hulle gholf vir die volgende paar dekades sou oorheers.

Nou, ’n raps meer as drie jaar later, is al drie nog op die toneel, maar het elkeen van hulle se spel gestagneer of selfs agteruit gegaan.

McIlroy is deesdae die wêreld se nr. 8, Day nr. 11 en Spieth is 17de op die ranglys.

Tog sê Spieth, ’n 25-jarige van Texas, hy weet wat dit van hom gaan vereis om weer onder die wêreld se heel bestes te tel.

“Ek onthou in 2015-’16 is daar in omtrent elke onderhoud met ons na die ‘groot drie’ verwys, maar niemand het die laaste paar jaar meer te veel oor ons gepraat nie,” het Spieth voor sy deelname aan vandeesweek se Sony Ope in Hawaii gesê.

Spieth wat in November getrou en nou vir die eerste keer as ’n getroude man speel, hoop hy sal in 2019 weer dieselfde hoogtes as vroeg in sy loopbaan kan bereik.

Spieth het in 2018 die eerste keer sedert 2014 nie ’n enkele toernooi gewen nie en het 31ste op die geldwennerslys in Amerika geëindig. Sy agteruitgang was grotendeels te wyte aan sy gesukkel op die setperke.

Waar hy voorheen met ’n hoë persentasie van sethoue tussen tien en 20 voet suksesvol was, kon hy in 2018 eenvoudig nie die blikkie vind nie.

Spieth swyg nog deurgaans oor wat hy dink met sy setwerk skeefgeloop het, maar sê hy sal die oorsaak daarvan nog onthul.

“Eendag sal ek verduidelik wat gebeur het en dan sal dit (sy gesukkel) makliker wees om te verstaan.

“Ek omhels egter die uitdaging om weer my beste peil te bereik. Ek het verlede jaar ook hard geoefen, maar ek het verkeerd geoefen en nou moet ek hierdie hele proses omkeer.

“Ek weet wat is fout met Jordan Spieth en ek weet ook wat Jordan Spieth reg doen. Ek weet waarheen ek op pad is en hoe om pret te hê terwyl ek dit doen,” het hy afgesluit.

* Spieth het in 2015 die Amerikaanse Meesters én Amerikaanse Ope gewen en in 2017 was hy die Britse Ope-kampioen.

* Hy het Donderdag die eerste ronde van die Sony Ope in ’n teleurstellende 73 houe voltooi, 11 agter die voorloper, Andrew Putnam. 

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Jason Day  |  Gholf  |  Europese Reeks  |  Pga  |  Rory Mcilroy  |  Jordan Spieth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.