Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Vlieg soos ’n arend (x4) vir Aussie Andrew
Die Australiese gholfspeler Andrew Martin is nou lid van ’n eksklusiewe groepie gholfspelers.Foto: Getty Images

Die Australiese gholfspeler Andrew Martin het ’n wêreldrekord geëwenaar deur vier arende, waarvan drie van hulle op ’n streep was, aan te teken in ’n enkele rondte.

Dít het hom in staat gestel om Sondag die Players Series-toernooi in Sydney te wen.

Die 36-jarige was agt houe agter die voorloper met die aanvang van die laaste ronde van die toernooi in die Australasiese PGA-reeks by die Bonnie Doon-gholfklub.

Maar ’n verbluffende eerste nege wat vier arende, ’n voëltjie en ’n enkele brouhou ingesluit het, was genoeg om hom binne trefafstand van die oornag-voorloper, Charlie Dann, te kry.

Drie brouhoue het Dann hierna duur te staan gekom en Martin in die voorlopersposisie laat inskuif.

Hy het uiteindelik sy rondte met ’n voëltjie op die 18de afgesluit en ’n telling van 61 houe, tien beter as die baansyfer, op sy kaart ingevul, wat sy oorwinning verseël het.

Sy vier arende gee hom toegang tot ’n eksklusiewe klub waaraan Willie Wood (1990), Scott McCarron (1995), Mikko Ilonen (2003) en Li Haotong (2019) behoort.

Drie van Martin se arende is agtereenvolgens van die sewende putjie af aangeteken. Nog net Finland se Toni Hanuka kon voorheen drie op ’n streep aanteken, toe hy dit in 2019 in die Abierto de Chile-toernooi vermag het.

Om tien beter as die baansyfer in die laaste ronde van ’n toernooi behaal, is nie iets wat sommer gebeur nie,
Andrew Martin

“Dit het nog nie heeltemal ingesink nie. Om tien beter as die baansyfer in die laaste ronde van ’n toernooi behaal, is nie iets wat sommer gebeur nie,” het die oorstelpte Martin Sondag gesê.

“Ek wou net ’n goeie rondte speel, om eerlik te wees. Om miskien twee of drie plekke op die voorlopersbord te spring. Vier arende oor die eerste nege het uit die aard van die saak hiermee gehelp.”

Sy verstommende vertoning het op die derde putjie (syfer 4) begin, waar hy ná sy bofhou die bal met ’n wigyster tot in die blikkie gekap het.

Hy het opgevolg met ’n voëltjie op die vierde, ’n brouhou op die sesde en toe ’n lieflike lopie van die sewende (syfer 5) af.

Hier het hy ná ’n goeie naderhou die setperk gehaal en die sethou ingerol. Op die agtste (syfer 4) het sy kaphoutjie naby die setperk weer tot in die blikkie gerol en op die daaropvolgende syfer 5 het sy derde hou met ’n wigyster wéér die kol getref. – Reuters

Meer oor:  Australie  |  Wenner  |  Gholf  |  Pga-Reeks  |  Wêreldrekord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.