Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Vroue reg vir Kaap ná jaar van frustrasie

Die voorste spelers in Suid-Afrika gaan Woensdag op die Royal Cape-gholfbaan aantree vir die Kaapstad-ope, wat die begin van vanjaar se Sonskynreeks vir vroue is.

Nicole Garcia in aksie in verlede jaar se Suid-Afrikaanse vroue-ope op die Westlake-baan in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Onder die groot name is Nicole Garcia, Monique Smit en Lejan Lewthwaite, wat al drie die pryspot van R200 000 in hul visier het.

Top-vertonings in die ope sal die vroue ook ’n goeie wegspring gee in die wedloop om ná die seisoen bo-aan die Investec-merietelys te eindig en ’n bonustjekkie van R100 000 in die sak te steek.

“Ses weke, ses toernooie en meer as R6 miljoen se prysgeld is op die spel – natuurlik kan ons nie wag om te begin nie,” het Garcia gesê toe sy Dinsdag oor die begin van die Sonskynreeks gepols is.

Dié driemalige wenner in die reeks het die hele 2019-seisoen misgeloop nadat sy ’n operasie aan haar heup ondergaan het.

Sy was oorgehaal om verlede jaar haar terugkeer tot die beroepsgeledere te maak, maar toe steek die koronavirus ’n stokkie daarvoor.

Monique Smit speel ’n naderhou op die sesde putjie op die Westlake-gholfbaan in verlede jaar se Suid-Afrikaanse vroue-ope Foto: Gallo Images

“Die afgelope 12 maande was uiters frustrerend,” het Garcia erken.

Die vlak 5-inperking in Suid-Afrika is kort ná die SA Ope ingestel en die Europese vrouereeks het ook alle toernooie tot September 2020 uitgestel.

“Met die lang onderbrekings tussen toernooie en die nagmerrie rondom reisbeperkings na die buiteland, was dit eintlik maar ’n seisoen wat ons moes afskryf. En dis hoekom ons almal so opgewonde is om weer speelkans te kry,” aldus Garcia.

Sy het ’n lansie gebreek vir die Sonskynreeks en die borge wat ook in die tyd moes vasbyt.

“Ons is ongelooflik geseën dat die reeks se organiseerder en belanghebbendes soos borge en vennote ons in die tyd van inperking aangehou ondersteun het.

“Die Sonskynreeks se slagspreuk die seisoen is ‘Level Up’ en ek dink dis presies wat ons nou moet doen: Ons moes die spel na die volgende vlak neem.”

Smit het Dinsdag Garcia se mening beaam.

“Verlede jaar was een groot uitdaging,” het die speler van George, wat in 2020 die Investec-merietelyswenner was, gesê. Sy was die kampioen in die Joburg-ope en naaswenner in die SA Ope.

“Dis nogal ironies dat ek die beste spelpeil van my loopbaan in die goorste jaar vir beroepsgholf bereik het,” het sy gesê.

“Ek het so ’n puik tuisseisoen gehad en vir my eerste AIG-vroue-ope gekwalifiseer. Die res van die seisoen was egter een groot frustrasie. Al wat ek in dié tyd vermag het, was om as ’n barista te kwalifiseer. So ek het darem iéts bereik,” het sy geskerts.

“Maar nou is ons terug op die baan en ek is geweldig opgewonde. Benewens die prysgeld is baie aansporingsbonusse op die spel.

“Daar is die kans om vir die Jabra Ladies Classic te kwalifiseer, wat jou weer toegang tot twee groot toernooie in die Europese reeks kan bied, en dan is daar natuurlik die kans om vir die SA Ope later vanjaar te kwalifiseer,” het Smit gesê.

’n Sege in dié ope bied aan vroue wenstatus in die Europese reeks en die geleentheid om in die Amerikaanse vroue-ope te speel.

“Verbeel jou jy kwalifiseer vir die grootste vrouetoernooi deur in jou eie agterplaas te wen. Wat ’n wonderlike aansporing is dit nie,” aldus Smit.

Die Sonskynreeks se suksesvolste speler, Lee-Anne Pace, is nog een van die topspelers wat in die Moederstad gaan aantree. Sy sal jag maak op haar vierde Kaapstad-ope-titel nadat sy oorwinnings in 2016, 2018 en 2020 behaal het.

Aanspraakmakers soos Stacy Bregman, Casandra Hall, Nobuhle Dlamini, die Skot Jane Turner en Frankryk se Anne-Lise Caudal kan ook nie buite rekening gelaat word nie.

Die toernooi sal Vrydag ten einde loop. – Sportredaksie; supersport.com

Meer oor:  Royal Cape  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.