Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Wilco sal huppel in sy stap hê

’n Speler se terugkeer na ’n gholfbaan waarop hy voorheen sukses behaal het, is nie noodwendig ’n waarborg vir ’n goeie week nie. Maar in Wilco Nienaber se geval sal dit geen verrassing wees as hy die poppe van Donderdag af laat dans nie.

Wilco Nienaber keer vandeesweek terug na die baan waar hy verlede jaar so byna sy eerste beroepsege behaal het. Foto: Getty Images

Die 21-jarige Nienaber speel vandeesweek vir net die tweede keer vanjaar in Suid-Afrika en boonop op ’n baan waar hy 14 maande gelede so byna sy eerste beroepsege behaal het.

Nienaber se eerste besoek as professionele speler aan die Euphoria-gholfbaan buite Mookgopong (voorheen Naboomspruit) het hom verlede jaar ’n tweede plek in die Limpopo-kampioenskap besorg, net twee houe agter JC Ritchie.

Sedertdien het die Bloemfonteiner net van krag tot krag gegaan. Hy het in 2020 met meer as 1 500 plekke op die wêreldranglys geklouter (van nr. 1 665 op 1 Januarie tot 161ste op 31 Desember) en in November die hoofopskrifte by die Joburg Ope oorheers op pad na ’n tweede plek.

Dit was weliswaar sy laaste top10-uitslag, en in die sewe toernooie waarin hy tot dusver vanjaar in aksie was, het hy drie afsnypunte gemis. Sy beste uitslag was ’n 16de plek in Maart se KitKat-toernooi in Houghton.

Nienaber wag steeds vir daardie ontwykende eerste beroepsege, maar sal sy aanslag daarop sekerlik Donderdag met ’n huppel in die stap voortsit by ’n plek vol goeie herinneringe.

“Ek is baie bly om terug te wees,” het Nienaber vroeër vandeesweek in ’n verklaring gesê. “Dis die eerste keer sedert verlede jaar wat ek op dié baan speel, maar ek het beslis in daardie tyd gegroei as ’n speler.”

Vandeesweek se Limpopo-kampioenskap (wat deur die Sonskynreeks en Europa se Uitdaagreeks aangebied word) is ’n verhoog waarop heelwat van Suid-Afrika se opwindendste jongelinge hoop om hul merk te maak.

Jayden Schaper (20), wat tweede in verlede jaar se Alfred Dunhill-kampioenskap was en die opwindende amateur Casey Jarvis is aan die voorpunt van dié groep.

Jarvis (17) het in Februarie die eerste speler geword wat Suid-Afrikaanse amateurgholf se Triple Crown (seges in die SA Amateurkampioenskap, die SA Houespel-toernooi en die Afrika-kampioenskap) kon behaal. Beroepsgholf is natuurlik ’n perd van ’n ander kleur, maar die tiener se vertoning sal steeds met groot belangstelling gevolg word.

Daniel van Tonder sal vir die eerste keer in aksie wees sedert hy in Maart sy eerste Europese titel gewen het. Foto: Getty Images

Ander spelers wat die pap dik kan aanmaak, sluit in die driemalige Europese wenner Brandon Stone en die Oos-Rander Daniel van Tonder.

Van Tonder het verlede maand in Kenia sy eerste Europese titel verower en boonop ’n uitnodiging na sy eerste major-toernooi (vanjaar se PGA-kampioenskap) gekry omdat hy in die top-100 op die wêreldranglys ingeskuif het.

Hy sal beslis ’n swaai in die stap hê in sy eerste toernooi sedert daardie triomf. Hy en Nienaber sal saam speel in die eerste twee rondes.

Meer oor:  Gholf  |  Wilco Nienaber  |  Limpopo-Kampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.