Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Wind kry Oosthuizen en kie nie onder

Terwyl die wind die vlaggies by die Randpark-gholfklub Donderdagoggend skoon in ’n knoop in gewaai het, sou jy ver gesoek het om iemand te kry wat rondes van 7, 8 en 9 beter as baansyfer op die eerste dag van vanjaar se Suid-Afrikaanse Ope sou voorspel.

Louis Oosthuizen Donderdag in aksie in die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Ope. Foto: Gallo Images

En tog is dít presies waarop die toeskouers by dié Johannesburgse klub trakteer is, terwyl die wind net nie genoeg beskerming kon bied aan óf die Bushwillow-baan óf die Firethorn-uitleg nie.

Ná 18 putjies van die nasionale Ope gee die tuisgunsteling Louis Oosthuizen die pas aan, ná nege voëltjies in ’n foutlose 62 (-9) by Randpark se nuwer Bushwillow. Die Zambiër Madalitso Muthiya het by dieselfde baan ’n 63 aangeteken, danksy agt voëltjies, en deel die tweede plek met die Amerikaner Kurt Kitayama, verlede week se Mauritius Ope-kampioen.

Kitayama was in die eerste ronde op die Firethorn-baan in aksie, ’n langer uitleg, maar op die dag ook ryp om gepluk te word.

Ondanks die wind – wat Oosthuizen beskryf het as die sterkste wat hy nog in Johannesburg beleef het – het altesaam 69 van die 240 mans by Randpark beter as baansyfer gevaar.

Onder hulle tel ’n paar van Suid-Afrika se gunstelinge: op Bushwillow die toernooi-gasheer, Ernie Els (66), Branden Grace (66), die Britse Amateurkampioen, Jovan Rebula (67), en op Firethorn Charl Schwartzel (67).

Oosthuizen was in aksie in die oggendsessie en het die baan met ’n voorsprong met drie houe oor die Engelsman Matt Wallace verlaat.

Dis die Suid-Kapenaar se eerste verskyning in die SA Ope sedert 2010 (toe hy derde was ná Els en Retief Goosen), en vir ’n beter “tuiskoms” in sy nasionale Ope kon hy nie vra nie.

Ondersteuners het reeds verlede maand by die Nedbank-uitdaagtoernooi baie opgewonde geraak oor die verbetering in sy spelpeil, met net ’n vuurwarm setvertoning deur Lee Westwood wat hom van die kroon gehou het.

Oosthuizen het op Randpark weer onderstreep dat hy terug op koers is, met sy akkurate setwerk en veral sy ysterspel wat ’n lus vir die oog was.

Die Suid-Afrikaner kon tevrede omdraai ná sy eerste nege putjies, met drie voëltjies op die telkaart, maar daarna het hy werklik vlamgevat en die laaste nege voltooi in 30 houe, ná nog ses voëltjies.

Die eerste hiervan, op die tiende putjie, was danksy ’n suksesvolle voëltjieset van bykans twee meter. Sy voëltjie op die elfde was beloning vir ’n suiwer kaphoutjie wat net sowel in die blikkie kon beland het.

Dit was egter die sestiende putjie wat Oosthuizen se hart die meeste sou laat sing het, aangesien hy daar ’n sethou van langer as vyf meter vir ’n voëltjie gebêre het.

Els, wat in 2010 die laaste van sy vyf SA Ope-titels gewen het, het die horlosie teruggedraai en was vir ’n wyle in die oggendsessie in die voortou, ná sy vyfde voëltjie van die dag by die tiende putjie.

Die enigste klad op sy telkaart was ’n brouhou op die dertiende. Hy het die dag in vier houe agter Oosthuizen voltooi.

Ditto Grace, wat staatmaak op ’n goeie uitslag hier om hom binne die 50 voorste posisies op wêreldranglys te hou. Val hy voor die einde van die jaar uit die top-50, sal daar geen uitnodiging na aanstaande jaar se Amerikaanse Meesterstoernooi in sy posbus beland nie.

Maar as hy aanhou speel soos Donderdag (toe hy onder meer stem dik gemaak het met drie voëltjies tussen die derde en vyfde putjies) sal dit hom nie oorkom nie.

Madalitso Muthiya. Foto: Gallo Images

Terwyl Oosthuizen Donderdagmiddag agteroor gesit het, het Muthiya en Kityama hard gewerk om hom te vang, en albei het pynlik naby daaraan gekom.

Die twee het by meer as een geleentheid gekreun oor voëltjiesette wat rakelings verby die blikkie geskuur het.

Kitayama, wat in net sy vierde Europese toernooi speel, maar homself sedert Sondag reeds ’n wenner kan noem, se 63 is ’n nuwe baanrekord op Firethorn en ’n luide waarskuwing aan Oosthuizen-hulle.

Geen speler wou die Bushwillow-baan (waar Kityama Vrydag sal speel) prontuit as die makliker van die twee uitwys nie, maar die feit dat net vyf van Donderdag se 26ste voorste spelers by Firethorn in aksie was, stuur tog ’n boodskap.

* Die jong Rebula gee ná 18 putjies die pas aan in die stryd om die Freddie Tait-trofee, wat aan die voorste amateur van die toernooi oorhandig word.

Hy speel vanjaar vir die derde keer in die SA Ope en het gesê hy sal niks meer geniet nie as om sy naam op daardie trofee te sien, saam met dié van sterre soos sy oom Ernie Els, Grace, Schwartzel, Dylan Frittelli en Brandon Stone.

Wilco Nienaber, Suid-Afrika se voorste amateur, en Deon Germishuys is twee houe agter Rebula.

Meer oor:  Sa Ope  |  Louis Oosthuizen  |  Randpark-Gholfklub
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.