Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Woods: ‘Ek wou wen vir my kinders’

Toe Tiger Woods sy 14de major-titel gewen het, was sy dogter, Sam, ’n skattige peuter en sy seuntjie, Charlie, nog nie gebore nie.

Hallo ou vriend, ons was lank van mekaar geskei . . . Tiger Woods glimlag ingenome nadat hy vir die eerste keer in 14 jaar Augusta se Meesterstrofee ontvang het. Foto: Reuters

Toe hy Sondag sy 15de wen, het dié twee saam met hul ouma, Tida Woods, langs die 18de setperk vir hom gewag – Sam nou ’n langbeen 11-jarige en Charlie ’n grootoog tienjarige.

Vir jare het die gedagte dat sy kinders nooit in lewende lywe een van sy major-triomftogte beleef het nie, hom aangevuur om net nog een keer die hoogste piek in wêreldgholf te bereik. Sodat hy in die oë van Sam en Charlie meer as net ’n YouTube-wonder kon wees.

Ná 11 major-lose jare van persoonlike skandale, vier rugoperasies, ’n pille-verslawing en ’n horde artikels waarin hy afgeskryf is, het Woods Sondag by Augusta een van die grootste stories wat gholf tot dusver gesien het, gelewer, toe hy die Amerikaanse Meesterstoernooi met een hou gewen het.

Sam en Charlie het saam met Woods se ma en sy vriendin, Erica Herman, vir hom gestaan en wag. “Ek weet nie wat hulle gesê het nie,” het hy Sondag volgens The Golf Channel in sy perskonferensie gesê. “Ek het te hard geskree. Ek dink almal anders ook.”

Net twee jaar gelede het Woods by die Kampioene-ete aan een van die ander vorige Meesterswenners gesê: “Ek is klaar. Ek sal nie weer gholf speel nie.”

Tiger Woods raap sy seun, Charlie, op in die oomblikke nadat hy vir die eerste keer in 11 jaar ’n major-titel gewen het. Foto: Reuters

Tuis moes sy kinders gewoond raak aan ’n pa wat na sy motor gehelp moes word, wat uit die bed moes rol en ’n bedpan op die vloer gelos het omdat hy nie in die nag kon opstaan nie.

Dit het ’n drastiese operasie in April 2017 en baie maande se rehabilitasie geverg voordat hy weer ’n gholfstok kon swaai. Nou is dit veilig om te sê ’n Marsman wat op aarde land en niks van sy geskiedenis weet nie, sal nooit raai ’n nuttelose rug was eens sy werklikheid nie.

“Ek dink my kinders begin nou verstaan hoeveel hierdie sport vir my beteken en van die dinge wat ek bereik het daarin,” het Woods Sondag gesê.

“Voor my terugkeer het hulle net geweet gholf veroorsaak dat ek baie seer het. As ek ’n stok probeer swaai het, sou ek in pyn op die grond beland. Ek het vir jare gesukkel, en dis basies al wat hulle onthou.”

Woods se Meesterstriomf Sondag was sy eerste by Augusta in 14 jaar, en die vyfde van sy loopbaan in daardie toernooi. Dit was 22 jaar nadat hy in 1997 as 21-jarige melkbaard sy heel eerste Meesterstitel gewen het – nadat hy 12 houe beter as enigiemand anders was.

Die gholfwêreld móés net parallelle trek tussen sy feesviering in April 1997 en dié van April 2019. Destyds het sy trotse pa, Earl, hom ingewag en het die twee mekaar emosioneel vasgegryp. Sondag was klein Charlie die eerste om sy arms om Woods te gooi, en toe Tida, en toe Sam.

Charlie (voor) wag Sondag langs die 18de setperk vir sy pa, saam met Tida, sy ouma, Sam, sy suster en Erica Herman, Woods se vriendin. Foto: Reuters

“My pa moes nie in 1997 daar gewees het nie,” het Woods Sondag onthou. “Hy het hartprobleme gehad en was nie veronderstel om te vlieg nie, maar hy het gevlieg en my daardie Woensdagaand nog ’n les op die oefen-setperk gegee. Die res is geskiedenis.

“My pa is nie meer hier nie (hy is oorlede in 2006), maar my ma is. Om Sam en Charlie daar te hê . . . hulle was verlede jaar by die Britse Ope toe ek voor was in die pylvak, maar foute gemaak het wat my die Ope-titel gekos het. Ek sou dit nie twee keer met hulle laat gebeur nie, ek wou hê hulle moes sien hoe hul pa ’n major-kampioenskap wen. Ek hoop dis iets wat hulle nooit sal vergeet nie.”

* Met hierdie sege het Woods opgeskuif tot sesde op die wêreldranglys, van die 12de posisie. Dustin Johnson, wat saam met Xander Schauffele en Brooks Koepka tweede was, is weer die wêreld se nr. 1.

Die Bolander Justin Harding, wat gesamentlik 12de in sy eerste Meesterstoernooi geëindig het, het daarmee reeds ’n uitnodiging vir aanstaande jaar se kampioenskap bewerkstellig. Hy het van 49ste tot 44ste op die wêreldranglys opgeskuif.

Meer oor:  Tiger Woods  |  Meesters  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.