Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Yanks grou hulself uit gat in Melbourne
Dit was Vrydag by Royal Melbourne weer nie sleg om in die Internasionale spankaptein Ernie Els se skoene te wees nie. Foto: Getty Images

Die Australiese gholfliefhebber wat Donderdag vir Patrick Reed gevra het of hy ’n graaf in sy gholfsak gaan ronddra by die Presidentebeker, het natuurlik net gespot met dié omstrede Amerikaner. Maar Reed en sy Amerikaanse spanmaats het waarskynlik in ’n stadium Vrydag gewens vir ’n graaf, terwyl hulle hul in ’n diep donker gat bevind het.

Tiger Woods-hulle moes Vrydag, laat in die beurtspel-sessie op die tweede dag by Royal Melbourne inderdaad diep delf om in die kompetisie te bly. Met twee van die dag se vyf wedstryde verby (en in die Internasionale span se guns) was daar geen Amerikaanse vlaggies op die groot telbord nie, met die tuisspan óf voor óf gelyk in die oorblywende drie wedstryde.

Dit het knyp-jou-oë-toe-en-bid sethoue deur Patrick Cantlay, Justin Thomas en Rickie Fowler geverg om die Yanks weer hoop te gee.

Ernie Els se Internasionale span het die tweede dag van die kompetisie met ’n voorsprong van 6½-3½ afgesluit ná die vyf punte in die beurtspel-sessie presies gedeel is. Die driepunt-voordeel van Donderdag het behoue gebly, maar Woods-hulle sal waarskynlik beter daaroor voel as ná die eerste dag.

Vrydag het hulle immers ’n bietjie veggees gewys.

Woods self was soos Donderdag weer aan die wenkant, danksy ’n suksesvolle voëltjie-sethou van nagenoeg 17 voet deur sy speelmaat Justin Thomas by die agtiende putjie. Dit was genoeg om die Asiese kombinasie van Byeong Hun-An en Hideki Matsuyama met 1-voor te verslaan.

Tiger Woods maak reg om Justin Thomas om die hals te val nadat die jonger Amerikaner ’n punt vir die Yanks verseker het met ’n lang voëltjie-sethou. Foto: Getty Images

In die groep voor hulle het Cantlay en Xander Schauffele met dieselfde telling oor Adam Hadwin en Joaquin Niemann geseëvier, danksy ’n Cantlay-sethou van 15 voet.

Toe Rickie Fowler ’n rukkie later ’n 5-voeter vir syfer by die agttiende aanteken, het hy en Gary Woodland ’n halfpunt teen Cameron Smith en Sungjae Im beredder wat soos ’n volpunt moes gevoel het. Hulle was immers twee putjies agter met drie putjies oor.

Daardie uitslag het beteken die Yanks het die dag dalk ’n aks gelukkiger as die Internasionale span afgesluit, maar in Ernie Els-hulle se spankamer sou hulle steeds breed geglimlag het.

Die veterane Louis Oosthuizen en Adam Scott het hulle ná hul Donderdag-heldedade Vrydag op die voorvoet gehou deur met 3 en 2 klaar te speel met Dustin Johnson en Matt Kuchar. Johnson-hulle het die eerste putjie gewen, maar is daarna gestoomroller deur Oosthuizen en Scott, wat reeds ná sewe putjies drie voor was en deurgaans komkommerkoel gebly het.

Die Aussie-veteraan Adam Scott bal sy vuis nadat hy en Louis Oosthuizen die Internasionale twaalftal se vyfde volpunt van die kompetisie gelewer het. Foto: Getty Images

Die Internasionale span se ander volpunt is gelewer deur nóg ’n Aussie, Marc Leishman, en die opwindende Mexikaan Abraham Ancer. Tot die skare se groot vreugde het hulle Reed en Webb Simpson se merendeels inspirasielose gholf uitgebuit om ook met 3 en 2 te wen.

Reed het skynbaar weer gedy in sy rol as hoofskurk, en ná ’n suksesvolle sethou laat in die dag sy hand agter sy oor gesit voordat hy gemaak het of hy sy setyster as ’n graaf gebruik.

’n Graaf het die Amerikaners nou inderdaad steeds nodig, en dit gaan al Woods se verbeelding verg om sy span uit die gat te kry, al is dit nie so diep soos dit kon wees nie. Sy Amerikaanse span bevind homself immers steeds in ’n posisie waarin hulle nie gewoond is nie. Vir net die derde keer in die kwarteeu van die Presidentebeker is die Internasionale span die pasaangeër ná twee sessies.

Met 20 punte op die spel in die laaste twee dae is dit nog gans te vroeg om enigiemand as oorwinnaar te salf, maar een ding is duidelik: hierdie Internasionale span is nie van plan om dit maklik te maak vir die sterbelaaide Amerikaanse twaalftal nie.

Els mag maar droom. Sy span het die spelpeil én die ingesteldheid om hierdie naweek hul 21 jaar-lange wendroogte te breek.

Uitslae van beurtspel-sessie:

* Louis Oosthuizen/Adam Scott (Int) klop Dustin Johnson/ Matt Kuchar 3 en 2;

* Xander Schauffele/Patrick Cantlay (VSA) klop Adam Hadwin/Joaquin Niemann (Int) 1-voor;

* Marc Leishman/Abraham Ancer (Int) klop Webb Simpson/Patrick Reed (VSA) 3 en 2;

* Tiger Woods/Justin Thomas (VSA) klop Hideki Matsuyama/Byeong Hun An (Int) 1-voor;

* Sungjae Im/Cameron Smith (Int) deel punt met Gary Woodland/Rickie Fowler (VSA).

Meer oor:  Presidentebeker  |  Gholf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.