Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Yanks maak Ernie-hulle skrik in Melbourne
Nog ’n veteraan, Marc Leishman, gee Abraham Ancer ’n verheugde drukkie nadat hulle van ’n agterstand van vyf putjies in hul beurtspel-wedstryd herstel het. Foto: Getty Images

As daar enige kans was dat Ernie Els se Internasionale span die laaste sessie van die Presidentebeker in Melbourne Sondag oorgerus sou binnegaan, het Tiger Woods en sy Yanks dit Saterdagmiddag netjies uitmekaar geruk.

Die Internasionale twaalftal gaan die laaste dag van die tweejaarlikse kompetisie met ’n voorsprong van 10-8 binne, wat beteken hulle moet in Sondag se enkelspelsessie minstens vyf van die 12 enkelspelwedstryde wen en nog een deel.

Die minimum wenvereiste in hierdie toernooi is 15½ punte.

Soos te verwagte in putjiespel, kon die Internasionale span met ’n bietjie meer geluk nader aan daardie teiken gewees het – maar terselfdertyd kon hulle ook meer in die knyp gewees het.

Die jong Internasionale span – die jongste ooit onder dié vlag – het hul oorheersing van Donderdag en Vrydag oorgedra na Saterdagoggend se beterbal-sessie, en net een van die vier wedstryde verloor. Dit het hul voorsprong gerek tot 9-5, en die partydige Aussies rondom die skoonvelde in ekstase gehad.

Daardie sessie het wel nie so goed geëindig soos Els-hulle gehoop het nie, met die Amerikaner Tony Finau wat ’n halwe punt in die laaste wedstryd gered het met ’n voëltjie op die laaste putjie. Was dit nie daarvoor nie, sou hy en Matt Kuchar die derde Amerikaanse paar van die sessie gewees het om voor die begeesterde Internasionale span te buig.

Al het hul agterstand in die oggendsessie groter geword, het die Amerikaners nietemin met hul sterte in die lug aangetree vir die middag se beurtspel-sessie – en vir die eerste keer vandeesweek die knuppel in die hoenderhok gegooi.

Die Internasionale span se mees ervare speler, Adam Scott, het nie Saterdag so ’n groot impak gehad soos hy sou hoop nie. Foto: Getty Images

In ’n stadium het dit gelyk asof al vier die beurtspel-wedstryde in die Yanks se guns sou eindig – ’n nagmerrie-scenario vir Els, wie se span dan ondanks twee en ’n halwe dae se oorheersing op 9-9 die enkelspelsessie sou binnegaan.

Dit was ’n lyfhou toe die veteraan-paar Adam Scott en Louis Oosthuizen in die eerste wedstryd met 2 en 1 deur Dustin Johnson en Gary Woodland geklop is – maar hul onervare spanmaats het geweier om hulle daardeur te laat breek.

In die tweede wedstryd het Marc Leishman en die uitmuntende jong Mexikaan Abraham Ancer teruggeslaan deur van vyf agter tot ’n gelykop-uitslag te herstel.

Ancer het in die oggendsessie saam met Sung-jae Im kleingeld van Patrick Cantlay en Xander Schauffele gemaak en het die hele week gewys hy’s nie ’n man wat maklik opgee nie.

Dít was die sleutel tot sy en Leishman se sukses terwyl hulle vyf van die laaste agt putjies gewen het, waaronder al drie die laastes.

In die derde wedstryd het Cantlay en Schauffele die bordjies verhang teen Im, deur hom en Cameron Smith met 2 en 1 te klop, maar in die vierde het die vonke gespat toe Finau en Kuchar ’n tweeputjie-voorsprong oor Joaquin Niemann en Byeong-hun An verspeel het.

An het selfs op die 18de ’n kans gehad om ’n volpunt te verdien, maar sy voëltjie-sethou het ’n paar millimeter van die blikkie verbygeskuif.

Daardie een sethou was die verskil tussen ’n tweehou- en ’n driehou-voorsprong ná drie dae, maar dis te betwyfel dat hierdie Internasionale span te veel daarop sal fokus.

Ja, hulle is onervare en ja, hulle is jonk, maar hulle het reeds gewys hulle skrik nie vir die swaargewig wat hierdie Amerikaanse twaalftal ongetwyfeld is nie.

Dalk was daar ’n kans dat hulle sou vergeet presies hoe gevaarlik Woods se Yanks kan wees, maar die groot waarde van die Saterdagmiddag-sessie was dat dit enige oorgerustheid in die Internasionale spankamer weggeblaas het.

Dit het ook gewys presies hoe vreesloos ’n paar van Els se jongelinge is.

Meer oor:  Presidentebeker  |  Tiger Woods  |  Ernie Els  |  Gholf  |  Amerika  |  Melbourne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.