Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gholf
Die titel is op die spel: Z-dag by Sonstad

Presies ’n jaar gelede het Zander Lombard op ’n wolkie gesweef nadat hy sy spelersregte vir die Europese reeks se 2019-seisoen behou het deur by die kwalifiseringskool te wen.

Nou, 367 dae later, het hy ’n kans om sy grootste wentjek ooit – dertien keer groter as sy huidige grootste – te kry, mits hy kan kophou op die grootste dag van sy loopbaan.

Zander Lombard by die Gary Player-buiteklub se 17de putjie, tydens ’n ronde waarin hy diep moes delf om sy neus voor Louis Oosthuizen s’n te hou. Foto: Getty Images

Die 24-jarige Lombard gaan die laaste dag van die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City binne met ’n voorsprong van een hou oor sy landgenoot Louis Oosthuizen (71) en die Belg Thomas Detry (69).

Lombard moes twee yslike spoedbulte in die eerste helfte van sy derde ronde oorkom om sy neus voor dié van die meer geroemde Oosthuizen te hou, maar ’n ronde van 72 (gelyk aan baansyfer) was eindelik goed genoeg daarvoor. Hy is op 205 (-11) in die voortou.

Die Pretorianer was merkbaar senuweeagtig aan die begin van die dag, wat hy met ’n voorsprong van twee houe oor Oosthuizen begin het, en moes by die meerderheid van sy eerste putjies diep delf vir syfers.

Toe hy ’n brouhou by die sesde putjie aanteken nadat hy nie die setperk in regulasie-houe kon bereik nie, het ’n mens vermoed die bodem gaan uitval. En toe hy by die agtste twéé houe aan syfer afstaan (ná ’n windskewe bofhou en drie sethoue) het die planeet onder hom geskud.

Dat hy wel ’n stewige dosis daarvan het, was duidelik terwyl hy van die twee groot syfers op sy telkaart herstel het. Hy het die dubbele brouhou uitgekanselleer met voëltjies by die 10de en 11de putjies, voor nog twee voëltjies by die 14de en 15de.

Lombard het ná sy ronde te kenne gegee dat hy nooit regtig so gemaklik gevoel het soos toe hy Vrydag met ’n skitterronde van 65 teen die voorlopersbord opgestorm het nie.

“Vandag (Saterdag) kon ek net nie aan die gang kom nie. Ek het nie regtig baie foute gemaak nie, maar twee of drie skoonvelde gemis wat my op die agtervoet geplaas het.”

Ek moet (Sondag) uitkom en daardie swaai vind wat ek Donderdag gehad het. My liggaam voel fantasties, ek moet net beter speel.

As Lombard se senuwees hom nie in die laaste ronde in die steek laat nie, wag ’n enorme wentjek van $2,5 miljoen (sowat R37,5 miljoen) op hom. Dis byna dubbel soveel as die R19,8 miljoen wat hy in sy ganse loopbaan tot dusver gewen het.

Wat Lombard natuurlik nie kan ontken nie, is dat veral Oosthuizen lewensgroot in sy tru­spieëltjie staan.

Die Suid-Kapenaar het Donderdag herinner waartoe hy op sy beste in staat is toe hy ondanks nierstene ’n wonderlike ronde van 63 aangeteken het.

Sedertdien het hy die nierstene uitgeskei, maar nog nie weer vir vuurwerk gesorg nie. Gister kon hy weer, soos Vrydag, nie werklik sy stempel afdruk nie, met drie voëltjies wat deur twee brouhoue bederf is in ’n ronde van 71.

“Morsig, baie morsig,” was hoe hy sy spel verduidelik het. “Ek was nie op my beste met my ysters nie en het die bal nooit regtig naby genoeg (aan die blikkie) geslaan nie. Jy kan nie verwag om heeltyd van ver af voëltjies te maak nie.

“Ek moet (Sondag) uitkom en daardie swaai vind wat ek Donderdag gehad het. My liggaam voel fantasties, ek moet net beter speel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.