Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
2 ‘Boere-Aussies’ volg in Kepler se spore
Marnus Labuschagne Foto: Getty Images

Australië kan die eerste keer sedert Kepler Wessels se speeldae ’n gebore Suid-Afrikaner, of selfs twee, in ’n krieket-toets inspan.

Die 24-jarige Marnus Labuschagne en Michael Neser tel onder die vyf nuwelinge in die Aussies se groep vir die twee toetse teen Pakistan, wat in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate beslis word.

Labuschagne is in Klerksdorp gebore en was tien toe sy ouers na Australië geëmigreer het. Neser is op sy beurt in Pretoria gebore en is ook op tienjarige ouderdom saam met sy gesin Australië toe.

Labuschagne is ’n spesialis-kolwer, terwyl Neser ’n veelsydige snelbouler is.

Suid-Afrika se Jacques Kallis was kleintyd Labuschagne se groot krieketheld, berig dailytelegraph.com.au.

Trouens, as Kallis destyds die kleur van sy kolfgreep verander het, het Labuschagne dieselfde met syne gedoen.

Hy het Queensland in alle ouderdomsgroepe verteenwoordig en die o.19-span aangevoer.

Hy het in sy eersterangse buiging as 20-jarige 83 lopies as aanvangskolwer vir Queensland in ’n Sheffieldskild-stryd teen Suid-Australië in Adelaide aangeteken.

Labuschagne het sedertdien vier honderdtalle en 13 vyftigtalle in 34 eersterangse wedstryde teen ’n kolfgemiddelde van 35.19 aangeteken.

Hy het verlede maand in Indië 65 in sy eendagbuiging vir Australië A teen Suid-Afrika A in die vierhoekige kitsreeks in Bangalore aangeteken.

Neser speel ook vir Queensland eersterangse krieket, terwyl hy Adelaide in die Big Bash T20-reeks verteenwoordig.

Neser het in 32 eersterangse wedstryde 96 paaltjies laat kantel met ’n boulgemiddelde van 29.43 en 1 029 lopies aangeteken (kolfgemiddelde: 22.86). Hy het al twee eendagwedstryde vir sy aangenome land gespeel.

Travis Head en Brendan Doggett, wat saam met Labuschagne en Neser in Bangalore in aksie was, kan ook hul toetsbuiging maak.

Die ervare Aaron Finch, wat Australië al in talle eendag- en T20-stryde verteenwoordig het, kan ook sy toetsdebuut in die Emirate maak.

Labuschagne het in 2014 reeds ’n voorsmakie van die Aussie-kleedkamer gehad toe hy as 12de man teen Indië op sy tuisveld, die Gabba, betrek is.

Sy vangkans op kortby van die boulwerk van Nathan Lyon om van Varun Aaron ontslae te raak, was iets om te aanskou. ’n Skermgreep van hoe hy ’n mielie op soortgelyke wyse in die kombuis vang, was ’n treffer op sosiale media.

Michael Neser Foto: Getty Images

Die volgende keer dat Labuschagne weer opslae gemaak het, was dit weer met veldwerk.

Hy was die eerste speler in die geskiedenis wat ná die nuwe reël met vyf lopies vir “fop-veldwerk” gestraf is.

Hy het in 2017 in ’n wedstryd vir die Queensland Bulls teen ’n elftal van Krieket Australië geduik na ’n bal en sonder die bal in sy hande gemaak of hy na die paaltjies gooi.

Die Aussies moet volgende maand klaarkom sonder die geskorste kolwers Steve Smith, David Warner en Cameron Bancroft, terwyl die twee snelboulers Pat Cummins en Josh Hazlewood nog beseer is.

Die Aussies sal volgens cricinfo.com vooraf teen Pakistan se naasbestes opwarm, waarna die eerste toets op 7 Oktober in Dubai begin.

* Wessels, ’n boorling van Bloemfontein, het in 1982 sy toetsdebuut vir Australië gemaak. Hy het egter later na Suid-Afrika teruggekeer en het sy geboorteland van 1992 tot 1994 aangevoer.

* Australië se toetsgroep: Tim Paine (k), Ashton Agar, Brendan Doggett, Aaron Finch, Travis Head, Jon Holland, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Nathan Lyon, Mitchell Marsh, Shaun Marsh, Michael Neser, Matthew Renshaw, Peter Siddle, Mitchell Starc.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.