Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
350+ in 1ste beurt sleutel in Pakistan

Volgens Boeta Dippenaar is die sleutel tot sukses in Pakistan eenvoudig: Slaan gróót lopies in jou eerste kolfbeurt.

Dippenaar het in 2003 saam met Suid-Afrika na Pakistan gereis. Die tuisspan het daardie reeks van twee toetse met 1-0 gewen.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JANUARY 05: Aiden Ma
Boeta Dippenaar speel ’n veeghou teen Shoaib Malik in die tweede toets tussen Suid-Afrika en Pakistan in Faisalabad in 2003. Foto: Gallo Images

Die Proteas het ook in 1997 en in 2007 na Pakistan getoer en albei daardie reekse met 1 – 0 gewen.

Suid-Afrika het dus nog net twee toetse in Pakistan gewen, maar ook nog net een toets daar verloor. Vier het onbeslis geëindig.

Drie Suid-Afrikaanse kolwers – Jacques Kallis, (drie), Gary Kirsten (twee) en Graeme Smith (een) – kon al ’n 100-tal in Pakistan aanteken. Die Proteas sal hoop om vanjaar ’n naam of twee by dié lys te voeg in hul reeks van twee toetse daar.

Suid-Afrika vertrek Vrydag na Pakistan. Die eerste toets begin op 26 Januarie in Karatsji en die tweede op 4 Februarie in Rawalpindi.

Dippenaar sê kolfwerk sal die deurslag gee.

“In die algemeen is die kolftoestande daar veel beter. Veral in die eerste beurt kan ’n mens regtig goeie lopies aanteken,” sê hy.

“Ons het al gesien hoe Gary Kirsten goeie lopies in die eerste beurt in Pakistan aangeteken het, want dan is dit altyd die maklikste om lopies te slaan. ’n Span se eerstebeurt-telling is dus van kardinale belang. As jy nie 350-plus in die eerste beurt aanteken nie, gaan jy jou stert jaag in die res van die toets.”

Dippenaar sê waar die spel moeilik begin raak, is op dag vier en vyf, wanneer die blad begin opbreek en hul draaibalboulers van gehalte ’n uitdaging begin raak.

Die huidige Protea-span sal nie weet hoe dit voel om in Pakistan te speel nie, maar sal kan peil trek op hul ervaring in ander subkontinent-lande, soos Indië en Sri Lanka. Suid-Afrika het die laaste paar jaar egter nie ’n goeie vertoningslys in dié lande nie.

Dippenaar sê die toestande in alle lande in die subkontinent is soortgelyk.

“Dit is eenders, maar die een ding is dat daar minder atmosfeer is in Pakistan. In Indië is daar altyd groot skares, maar in Pakistan kry jy soms ’n dooie gevoel. Dit gaan waarskynlik nou in elk geval die geval wees."

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JANUARY 05: Aiden Ma
Aiden Markram sal sy vertoningslys buite Suid-Afrika moet verbeter. Hier is hy voor die penne in die tweede toets teen Sri Lanka in Johannesburg aan die begin van die maand. Foto: Gallo Images

Die toetse sal weens die Covid-19-pandemie sonder toeskouers plaasvind.

As die Suid-Afrikaners Dippenaar se raad wil volg, sal veral een kolwer moet wys hy kan beter vaar in vreemde toestande as wat sy vertoningslys voorstel. Aiden Markram het al vier toetse in die buiteland gespeel – twee in Sri Lanka en twee in Indië – en het ’n skamele gemiddeld van 10.50 in dié toestande.

Kolwers soos Dean Elgar, Quinton de Kock en Faf du Plessis het onlangs ’n paar lopies in die subkontinent geslaan, maar Markram, wat nou ook as ’n senior speler gereken kan word, sal ook na vore moet tree as Suid-Afrika groot totale wil aanteken.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Boeta Dippenaar  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.