Heinrich Klaasen sal ’n onervare Protea-groep in die reeks van drie T20-wedstryde teen Pakistan aanvoer.
Krieket Suid-Afrika (KSA) het Dinsdag die groep van 18 spelers aangekondig wat op 11, 13 en 14 Februarie in Lahore teen Pakistan sal kragte meet.

Heinrich Klaasen sal die Proteas in die T20-reeks teen Pakistan aanvoer. Foto: Gallo Images
Die groep bevat vier spelers sonder internasionale ervaring – die kolwers Jacques Snyman en Ryan Rickleton en die boulers Okuhle Cele en Glenton Stuurman.
Slegs vier spelers wat tans saam met die toetsgroep in Pakistan is, Dwaine Pretorius, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla en George Linde, sal agterbly vir die T20-reeks.
Die res van die toetsgroep sal ná die tweede toets, wat op 4 Februarie begin, terugkeer na Suid-Afrika om met hul kwarantynmaatreëls te begin voor die beplande tuistoetsreeks teen Australië. Die bepalings vir die reeks teen die Aussies is nog nie vasgestel nie.
Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, sê Covid-19 het sportliggame genoop om innoverende maniere te vind vir reekse om plaas te vind.
“Ons moes ook buite die boks dink om te verseker ons is ten volle voorbereid vir die toetsreeks teen Australië, terwyl ons steeds ’n opwindende reeks teen Pakistan sal hê,” sê Smith.
“Ons is in die finale stadiums van ons beplanning rondom hoe die afrigtingspanne vir die twee toere sal lyk.”
Victor Mpitsang, die sameroeper van die keurkomitee, sê dié reeks is die ideale geleentheid vir jong spelers om na vore te tree met die oog op die T20-Wêreldbekertoernooi, wat vir Oktober in Indië geskeduleer is.
“Ons ondersteun vir Heinrich Klaasen in die kapteinskaprol. Hy het al gereeld spanne in sy loopbaan aangevoer. Ons weet hy sal Suid-Afrika goed verteenwoordig in Pakistan.”
• SA T20-groep: Heinrich Klaasen (k), Nandré Burger, Okuhle Cele, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Reeza Hendricks, George Linde, Janneman Malan, David Miller, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Ryan Rickleton, Tabraiz Shamsi, Lutho Sipamla, Jon-Jon Smuts, Pite van Biljon, Glenton Stuurman, Jacques Snyman.