Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
7 van Krieket SA toets positief, in isolasie

Krieket Suid-Afrika (KSA) kan nie sê hoeveel van sy sewe werknemers wat positief getoets is vir Covid-19, spelers is nie, maar dr. Shuaib Manjra kan wel bevestig dat daar “meer ondersteuningspersoneel as spelers” is wat dié virussiekte onder lede het.

Dr. Shuaib Manjra, die KSA se mediese hoof, op ’n Zoom-mediakonferensie tydens die inperking. Foto: Gallo Images

Manjra, die KSA se mediese hoof, het Maandag ook aan Netwerk24 bevestig dat nie een van die sewe positiewe gevalle ernstig is nie.

“Almal is stabiel, die meeste van hulle het nie enige simptome nie. Niemand is in gevaar, of eens in die hospitaal nie,” sê Manjra.

Johann de Jager het Sondag berig dat twee spelers, waarvan een ’n Protea is, positief getoets is vir Covid-19. Die ander speler is ook in die KSA se vergrote oefengroep.

Manjra het Maandag gesê die KSA het verlede week net meer as 100 toetse by ses verskillende plekke in die land gedoen.

“Deel van die regulasies wat die minister van sport, kuns en kultuur (Nathi Mthethwa) gestipuleer het, vereis dat alle spelers en ondersteuningspersoneel wat na die oefenveld terugkeer, getoets moet word,” sê Manjra.

“Ons het alle spelers wat na die oefenveld moet terugkeer, getoets. Dit sluit in ons hoëprestasiegroep. Al ons afrigters, fiksheidsafrigters en ondersteuningspersoneel wat saam met hulle na die oefenveld sou terugkeer, is getoets.”

Hy sê ’n gesonde afstand is met die toetsing gehandhaaf en dat diegene wat positief getoets is, nie by mekaar aangesteek het nie. Al sewe is tans in kwarantyn.

“Ons het selfisolasie afgedwing by almal wat positief getoets is. Ons het opgevolg met almal met wie hulle in kontak was en daardie mense is ook nou in afsondering.”

Die protokol-voorstelle vir ’n terugkeer tot die oefen- en speelveld wat die KSA ingedien het, is nog nie deur die regering goedgekeur nie. Dít ondanks die feit dat dit volgens verskeie bronne uiters deeglik is en die beste internasionale praktyke gevolg word.

Die gebrek aan goedkeuring het daartoe gelei dat die Solidarity Cup-wedstryd, wat vir Saterdag in Centurion beoog is, uitgestel is.

Manjra kan nie namens die regering sê of die positiewe toetse gaan bydra tot ’n verdere vertraging in die goedkeuring wat die KSA nodig het om krieket weer te laat hervat nie.

“Wat ek wel kan sê, is dat ons alle nodige voorsorgmaatreëls gevolg het, soos uiteengesit deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die departement van gesondheid,” sê Manjra.

“Alle voorsorg is getref om te verseker daar is behoorlike isolasie vir die betrokke individue. Ons het die toetsing, nasporing, versorging en isolasie gedoen. Ons het aan die vereistes voldoen.

“Voor die Solidarity Cup-wedstryd sal ons die spelers weer toets.”

Daar is wel nog nie duidelikheid oor wanneer daardie wedstryd nou gaan plaasvind nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.