Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Proteas
Boucher in sy noppies met De Kock, Maharaj

Vir beter voorbereiding – of meer selfvertroue – voor die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) kon die Proteas beswaarlik vra.

Hul skoonskipreekssege van 3-0 teen Sri Lanka is nou hul derde agtereenvolgende T20-reeksoorwinning en al drie was boonop weg van die huis af.

Quinton de Kock was weer in verwoestende luim met die kolf in die T20-reeks teen Sri Lanka. Foto: Getty Images

Die wyse waarop hulle die Sri Lankane in draaiersvriendelike toestande uitoorlê het, sal Mark Boucher, die afrigter, ’n sprankie hoop gee voor die T20-WB in Oktober in die Verenigde Arabiese Emirate begin.

Die Protea-draaiers Bjorn Fortuin (5 paaltjies), Tabraiz Shamsi en Aiden Markram (albei 4) en Keshav Maharaj (3) is almal boaan die lys van die voorste paaltjievrate ná die reeks in Sri Lanka. Daarteenoor het die Protea-kolwers nie, soos vooraf gevrees, wesenlik met die uitdaging gesukkel wat die Sri Lankaanse draaiers gebied het nie. In die drie wedstryde het Suid-Afrika om die waarheid te sê slegs ses paaltjies verloor.

Boucher is tevrede met waar die span homself op die oomblik bevind, maar weet hulle is nog nie die afgeronde produk nie.

“Ons wil dus in elke wedstryd verbeter. Ons het gepraat oor die lesse wat ons sedert die reeks in die Wes-Indiese Eilande geleer het en ons wil daarop voortbou,” het hy Dinsdag ná die sege met tien paaltjies in die derde T20-wedstryd gesê.

“Om te wen word ’n gewoonte. Dit is deel van die groeiproses van die span dat ons élke wedstryd moet kan wen – wedstryde wat belangrik is en ook wedstryde soos hierdie een waar daar dalk nie so baie op die spel is nie.”

Quinton de Kock was weer skitterend en het die reeks met 153 lopies afgesluit – die meeste van enige kolwer. Hy het twee 50-talle gemoker en het sy paaltjie net een keer verloor.

Keshav Maharaj het hom goed van sy taak as kaptein in die T20-reeks teen Sri Lanka gekwyt. Foto: Getty Images

Boucher weet hoe ’n belangrike speler hy in die VAE gaan wees.

“Quinny se spelpeil is skitterend ná die moeilike tyd wat hy vroeër vanjaar in Pakistan gehad het. Ons weet hoe ’n goeie speler hy is en jy kan nie so iemand vir te lank onderkry nie,” sê Boucher.

“Hy beteken baie vir die span en hy is op die oomblik op ’n goeie plek. Dit is ook goed dat hy deurkolf. Dit sal maklik wees vir ’n speler soos hy om net 35 te slaan en uit te gaan, maar hy het dit vir ons deurgesien.”

De Kock is goed deur Reeza Hendricks bygestaan, wat met 112 lopies die naasvoorste lopiemaker in die reeks is.

Boucher glo daar is genoeg verskillende spelers in die T20-WB-groep wat vir die span genoeg opsies sal gee volgens die uitdagings wat die speeltoestande teweeg bring. Hy is ook bly dat verskeie spelers nou na die Indiese Premierliga opruk, waar hulle aan die toestande in die VAE gewoond sal kan raak.

Boucher was tevrede met die taak wat Keshav Maharaj, die instaankaptein, verrig het.

“Ek het verwag Keshav sal goed vaar. Hy het ’n baie goeie voorgevoel vir die spel. Veral as ons baie draaiers speel,” sê hy.

“Sy kommunikasie en vertroue wat hy in die draaiers het, is uitsonderlik.”

Maharaj is in die T20-WB-groep, maar die groep sal deur Temba Bavuma aangevoer word, wat tans beseer is. Maharaj glo Bavuma is steeds die regte man vir die kapteinskap.

“Ons almal sien daarna uit om hom terug te kry ná sy besering,” sê hy.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Keshav Maharaj  |  Krieket  |  T20  |  Mark Boucher  |  Proteas  |  T20-Wb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.