Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Aanstel? ‘Nie in ’n miljoen jaar nie’

Die Proteas gaan die toetsreeks teen Engeland sonder ’n direkteur van krieket betree, want “nooit in ’n miljoen jaar” sal daardie pos vanjaar al gevul word nie, het ’n bron in die binnekringe van SA krieket vandeesweek aan Rapport gesê.

Dít is slegs een van tientalle kwessies by Krieket Suid-Afrika (KSA) wat die spelersvereniging, Saca, bekommer.

’n Gespanne verhouding . . . Corrie van Zyl, die geskorste waarnemende direkteur van krieket, langs Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Thabang Moroe.Foto: GALLO IMAGES

Tony Irish, Saca se uitvoerende hoof, is byvoorbeeld stomgeslaan oor Thamie Mthembu, woordvoerder van KSA, se opmerking vandeesweek dat “geen leser belang stel in wie die Suid-Afrikaanse span kies nie”.

Dít was Mthembu se antwoord toe ’n joernalis gevra het wie waarneem as die keurkomitee, siende dat die posisie van hoofkeurder ook nog, nes die direkteurspos, nie gevul is nie.

“Dit is onaanvaarbaar, vir die spelers en ondersteuners, om nie te weet wie die keurders is nie,” het Irish aan Rapport gesê.

“Die spelers moet weet wie hulle kies en daar moet aanspreeklikheid vir keurders wees, vir vertroue in die proses om daargestel te word.”

Selfs Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het in ’n onderhoud met Hanlie Retief gesê Mthembu was verkeerd om dít te sê: “Ja, mense behoort te weet wie die Proteas kies, ter wille van vertroue in die deursigtigheid van die KSA en geloofwaardigheid van die keurkomitee.”

Patrick Moroney is die gunsteling vir dié pos. Monde Zondeki en Linda Zondi is die ander kandidate.

Maar dít sal jy nie by KSA hoor nie.

Ons is bekommerd, want die strukture rondom die Proteas het ’n invloed op hul vertoning.
Tony Irish, Saca se uitvoerende hoof.

Geen amptelike verklaring is al uitgereik oor die vakante poste nie. Dít nadat Moroe verlede week gesê het hulle sal 22 November kommunikasie rondom die direkteurspos uitstuur. Dit het nie gebeur nie.

Trouens, Mthembu het vandeesweek selfs ontken dat KSA sy sperdatum gemis het – nóg iets wat Saca kwel.

Mthembu het gesê: “Hy (Moroe) het nooit gesê verlede week is die sperdatum nie. Hy het gesê ons sou graag die nuwe direkteur van krieket wou aankondig. As jy vir my ’n klankgreep kan wys waar hy dit sê, sal ek graag ’n verklaring uitreik waarin ons om verskoning vra omdat ons die sperdatum gemis het.”

’n Videogreep van ’n onderhoud van Moroe op Newzroom Afrika waar hy duidelik sê: “Die sperdatum wat ons vir onsself gestel het, is hierdie Vrydag (22 November)”, is toe vir Mthembu gestuur.

Mthembu het hierop geantwoord: “Ek volstaan daarby dat geen sperdatum gestel is nie.”

Moroe het ook in daardie onderhoud gesê die kans is “50/50” dat hulle by die sperdatum sou hou. Dit blyk nou die kans was nader aan “99/1” dat hulle nie daarby sou hou nie.

Soos wat Rapport verlede naweek berig het, gaan die pos weer geadverteer word en KSA gaan oorsee na kandidate soek. ’n Bron in die binnekring het dít vandeesweek herhaal en gesê daar is geen kans dat ’n direkteur van krieket aangestel gaan word voordat die toetsreeks teen Engeland op 26 Desember begin nie.

Nie een van die oorblywende drie kandidate – Corrie van Zyl, Hussein Manack en Dave Nosworthy – gaan aangestel word nadat die gunsteling-kandidaat, Graeme Smith, hom aan die wedloop onttrek het nie.

Mthembu is Maandag gevra wanneer die pos weer geadverteer gaan word, waarop hy geantwoord het: “Die proses gaan nie van vooraf begin word nie.” Woensdag is hy weer gevra en het toe gesê: “As daar ’n behoefte is, sal ons die proses om iemand aan te stel heropen.”

Die woordvoerder wou ook nie sê wie nou waarneem as direkteur van krieket nie, aangesien die waarnemende direkteur van krieket, Van Zyl, geskors is.

Soos sake tans staan, blyk Enoch Nkwe, waarnemende spandirekteur (afrigter), die enigste waarnemende keurder te wees vir die reeks teen Engeland.

Moroe sê Nkwe en Van Zyl is die keurders, maar Van Zyl is geskors hangende ’n ondersoek na beweerde pligsversuim rakende ’n beeldregtekwessie van verlede jaar se Mzansi-superliga.

Oor of Nkwe die span teen Engeland gaan afrig, het Mthembu ook rondgeval, maar dit blyk wel die geval te wees.

In ’n onderhoud met Simnikiwe Xabanisa het Nkwe erken dit is moeilik om soveel onsekerheid te hê: “Jy moet aan die onmiddellike dink, maar ook die groter prentjie in gedagte hou.”

Al die bontpratery van KSA se woordvoerder, tesame met die onsekerheid, kan krieket in die land baie skade berokken.

“Ons is bekommerd, want die strukture rondom die Proteas het ’n invloed op hul vertoning,” sê Irish.

“Die reeks is minder as ’n maand weg, so ons is reeds op die agtervoet. Maar dit is belangrik dat die direkteur van krieket die regte persoon is.”

Ali Bacher, voormalige grootbaas van KSA, het aan Rapport bevestig hy staan die beheerliggaam agter die skerms as raadgewer by, maar “dit is nog te vroeg om enigiets te sê”.

Meer oor:  Krieket Suid-Afrika (Ksa)  |  Saca  |  Proteas  |  Pos  |  Direkteur Van Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.